Vrese oor ontwrigting tydens protesoptrede

Kimberley kan Vrydag weens ’n volskaalse staking deur die Samwu-vakbondlede lamgelê word nadat sommige vakbondlede reeds Donderdagoggend die middestad met protesoptrede ontwrig het. Die vakbond beplan om hul “wettige staking” […]


Kimberley
kan Vrydag weens ’n volskaalse staking deur die Samwu-vakbondlede lamgelê word
nadat sommige vakbondlede reeds Donderdagoggend die middestad met protesoptrede
ontwrig het.

Die
vakbond beplan om hul “wettige staking” onbepaald voort te sit totdat hul
griewe opgelos word.

Sowat
1 000
munisipale werkers gaan aan die staking deelneem.

Volgens
Dailey Semau, voorsitter van die Sol Plaatje-tak van Samwu, maak hulle vooraf
verskoning vir enige ongerief aan inwoners.

“Ons
het egter geen ander keuse nie. Die munisipaliteit ignoreer ons eise reeds
maande lank. Ons kan dit nie meer duld nie. Die staking is wettig, en kan
onbepaald voortduur.

“Ons
het Donderdag voor die stadsaal vergader om die munisipaliteit in te lig oor
ons staking.

“Die
verslag wat die munisipaliteit oor ons griewe saamgestel het, is onaanvaarbaar.
Ons het dit in die geheel verwerp.”

Hy
het hul belangrikste eise verduidelik.

“Ons
eis dat een van die bestuurders afgedank word weens die miljoene rande wat hy
sedert 2016 aan regskoste in sake teen ons lede bestee het.

“Die
munisipaliteit het ook geen stappe gedoen teen ’n vorige waarnemende
stadsbestuurder wie se seun onwettig aangestel is nie.

“Die
aanstelling van die huidige waarnemende munisipale bestuurder was ook nie
korrek nie. Sy was as ’n projekbestuurder veronderstel om aan die raad te
verduidelik hoekom sy weens die wanbestuur van ’n projek nie geskors moet word
nie. In plek daarvan is sy by ’n omstrede raadsvergadering as die nuwe
waarnemende stadsbestuurder aangestel.”

Hy
beweer daar is twee bestuurders in die speaker se kantoor, wat “’n vermorsing
van belastingbetalers se geld is. Die een bestuurder se kontrak moes saam met
die vorige burgemeester beëindig word. Daar is eintlik net een vaste bestuurpos
in die speaker se kantoor. 

“Die
kwessie van die forensiese ondersoek bly ’n doring in die vlees. Sedert die
forensiese verslag en aanbevelings verlede jaar opgestel is, is dit nie by die
raadsvergadering bespreek, aanvaar en toegepas nie.”

Die
werkers gaan Vrydagoggend voor die stadsaal vergader en na die burgersentrum
opruk.

Sello
Matsie, munisipale woordvoerder, sê hulle het nog Donderdagmiddag met die
vakbond oor hul griewe onderhandel en om nie te staak nie.

“Indien
hulle staak sal daar nie Vrydag vullisverwydering wees nie.”

“Die
vakbond het Donderdag buitebande voor die stadsaal aan die brand gesteek en
rommel in die strate gestrooi. Geen noemenswaardige skade is aangerig nie.”

Sharon
Steyn, uitvoerende hoof van Noord-Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid
(Nocci) sê sy gaan ’n brief aan dr. Zamani Saul, premier skryf, om in te gryp.

“Kimberley
kan nie bekostig om weer só ’n verlammende staking soos verlede jaar te hê nie.
Ons het op vorige geleenthede gevra wat die regering en munisipaliteit se
planne is ten tyde van ’n verlammende staking. Ek was reeds in verbinding met
die polisie en die verkeersdienste. Ons het geen bevestiging dat die staking
gaan gebeur nie, maar dit moet te alle koste gestuit word.”

Sergio
Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie is gereed vir enige gebeurlikheid en
het noodplanne indien daar enige verder ontwrigting is. Die situasie word
deeglik dopgehou.

You need to be Logged In to leave a comment.