Vrees hoef jou nie in hierdie tyd te pootjie

Ons leef in ’n wêreld gedryf deur vrees. Dit ontlok een van twee reaksies by mense: veg of vlug.


Ons leef in ’n wêreld gedryf deur vrees. Dit ontlok een van twee reaksies by mense: veg of vlug.

In Johannes 20:19-23 is vrees ook ’n realiteit. Die dissipels sluit hulle toe uit vrees vir die Jode. Hulle het pas ervaar wat die mense met Jesus gedoen het, en moontlik aan hulle kan doen vanweë hul assosiasie met Hom.

Dan is Jesus skielik tussen hulle, ten spyte van die toe deure. En Hy roep hulle om sy gestuurdes te wees. Hy spreek lewe oor hulle uit. In hierdie onsekere ruimte van vrees en donkerte, bring Jesus se teenwoordigheid bekendheid en lig.

Die opdrag is: Die Vader het My gestuur en so word hulle ook nou gestuur. Hulle speel ’n sentrale rol in die totstandkoming van ’n nuwe werklikheid.

Dan vind die Pinkstergebeure van die Johannes-Evangelie plaas. Jesus blaas sy asem oor hulle uit: “Ontvang die Heilige Gees!”

Om die opdrag van Jesus te vervul, word ’n transformasie vereis: Vrees vir die lewe word omarming van die lewe ten spyte van uitdagings. Die Heilige Gees sal hulle lei en ondersteun.

Die sterk emosies van angs in die teks is ook in ons samelewing. Die groeiende aggressievlakke van mense in alledaagse omgang met mekaar, op die sosiale media, op die paaie, in huise, by skole, in werkplekke en in die politieke arena, laat ons besef dat geweld na elke vlak van ons bestaan en samelewing deurtrek.

Ons is ewe effektief met ontvlugtingstegnieke: Onttrekking uit omgewings wat enigiets meer van my vereis as ons eie welstand, veiligheid en gesondheid.

Ook die kerk trek dikwels laer en beskou ons gemeentes as “bakens van stabiliteit” in die onstuimigheid van ons wêreld. Ons bou al hoër mure en hoop dat die waters bedaar.

Die opgestane Jesus staan in die middel van ervarings van vrees. Hy spreek vrede in donker vertrekke.

Juis in die ervaring van vrees, stuur Jesus die dissipels. Hy blaas in tye van verwarring en ongemak en onsekerheid nuwe lewe in ons.

Hulle wat die Heilige Gees ontvang het, het nou ’n taak om te vervul. Die Heilige Gees rus jou toe.

You need to be Logged In to leave a comment.