’n Foto wat op Vrydag 16 Augustus by die Prieska-museum geneem is.

Foto: Verskaf

Iemand is glo toestemming gegee om museum- en argiefstukke uit die Prieska-museum te verwyder, en die AfriForum-tak in dié dorp eis ’n dringende vergadering met die bestuur van die Siyathemba-munisipaliteit oor die toekoms van die museum.

Dit is onbekend wie dié toestemming gekry het om die stukke te verwyder.

Dit het ook onder die tak se aandag gekom dat die munisipaliteit glo die museum wil sluit.

In die beoogde vergadering wil die organisasie die moontlikheid bespreek om die instandhouding van die museum by die munisipaliteit oor te neem.

“Ons glo hierdie oorgang sal vir alle partye voordelig wees en dat dit die behoud van die museum sal verseker,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum-distriks­koördineerder vir die Karoo.

In ’n brief wat die tak op Donderdag 15 Augustus per e-pos aan die munisipaliteit gestuur het, word versoek dat geen stukke uit die museum verwyder word totdat ’n aantal vrae beantwoord is nie.

Sover vasgestel kon word is die stukke wat reeds verwyder is nie artikels op bruikleen nie; dit is derhalwe nie deur die eienaars opgeëis nie.

AfriForum eis antwoorde oor onder meer wie toestemming gegee het vir die verwydering van die museumstukke; waarom dit verwyder word; en wanneer dit terugbesorg sal word.

Volgens die organisasie is dit ’n herhaling van Julie 2020, toe die munisipaliteit gedreig het om die museum te sluit en van die historiese stukke ontslae te raak. AfriForum het destyds ingegryp en die museum besoek om ondersoek in te stel. ’n Skrywe is toe ook aan die munisipaliteit gerig, maar geen terugvoering is ontvang nie.

“Indien die munisipaliteit nie binne ’n redelike tyd op die vrae reageer nie, sal ons aanvaar dat die verwydering van die artikels ongemagtig is. Ons sal dan die betrokkenes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aankla,” sê Smit.

Die museum in die dorp se hoofstraat neem besoekers op ’n reis van dié dorp se ontstaan in die 1800’s tot die onlangse verlede. Die versameling sluit onder meer outentieke landbougereedskap en -toerusting in en vertel ook die storie van Prieska en sy mense deur uitstallings wat historiese huishoudelike ware bevat.

You need to be Logged In to leave a comment.