Ons gaan almal tans deur ’n moeilike tyd. Hoe hanteer jy dit?
Ons is bekommerd oor die siekte en hoe dit ons kan raak – of reeds raak. Ons is bekommerd oor inkomste en verlies aan geld. As ouers wonder ons oor ons kinders se opleiding wat onseker is. Vir sommige, soos die 2020-matrieks, moes die jaar ’n hoogtepunt wees, maar dit het heeltemal anders uitgedraai.
Wat staan ons te doen?
Uiteraard is die vrese in ons lewe nie almal net persepsies nie, maar werklikhede.
Wanneer ’n ernstige siekte by jou diagnoseer word, moet jy met erns daaraan aandag gee.
Maar wat maak jy met jou gedagtes, met die bekommernis oor die omstandigheid?
Ons kan ons daaroor verknies, ons kan ons al die slegte scenario’s indink en in sak en as sit.
Paulus het deur verskillende ervarings van fisieke en emosionele pyn gegaan. Hy was geslaan en met klippe gegooi. Hy is uit dorpe weggejaag omdat sy boodskap ongewild was.
Tog het hy nie in moedeloosheid gebly nie. Hy het perspektief behou deur op groter sake as die onmiddellike gebeurtenis te fokus. Hy het positief gekyk na hoe elke klein dingetjie in die groter geheel inpas, en hoe hy steeds in alles deur God ondersteun is.
Kortom, hy het nie ervaar dat God hom in die steek gelaat het nie, al was mense en omstandighede hom nie altyd goedgesind nie.
Ons sê Paulus het “God-vrae” oor die lewe gevra.
God-vrae beteken ons moet voortdurend vra hoe God deur al my lewenservaringe vir my wil leer, my verhouding met Hom wil versterk, en my geestelike karakter wil bou.
Daarom moet ons kyk na positiewe dinge wat in ons lewe gebeur. Wat is die mooi dinge in jou lewe? Waar ervaar jy dat mense jou bystaan? Waar sien jy mense wat omgee omdat hulle aangespreek is deur ander se nood?
Te midde van swaarkry is daar ook altyd dinge om te waardeer, om die Here voor te loof. Dink elke dag aan die dinge waarvoor jy dankie kan sê. En doen dit sommer dadelik.