Jan Smit (links) en Mark Visagie by van die kennisgewings wat opgerig is.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

As deel van sy volhoubare skoonmaakprojek in Keimoes het AfriForum se tak in dié dorp onder meer die hoofstraat en die gebied by die historiese Waterwiel skoongemaak.

Die tak het ook die gesteelde kennisgewingborde, wat aandui dat rommel in asblikke hoort, op 23 April vervang. Die twee nuwe borde, een by die Waterwiel en een by die Hoërskool Keimoes, is deur die tak gekoop en opgerig.

Die skoonmaakprojek is reeds meer as ’n jaar aan die gang. Dit behels onder meer die skoonmaak en beveiliging van die hoofstraat en die gebied by die Waterwiel, die weeklikse leegmaak van asblikke en die skoonmaak van die openbare toilette wat oorkant die Waterwiel geleë is.

“Ons wil ’n verskil in die dorp maak en sien dat daar aan elke inwoner se reg tot ’n veilige en skoon omgewing voldoen word,” sê Meisie Pool, buurtwagleier van AfriForum se Groot-Oog-buurtwag.

“Hoewel sulke aktiwiteite die verantwoordelikheid van die munisipaliteit is, kan ons nie op hulle staatmaak om hierdie basiese dienste te verrig nie. Daarom moet elkeen sy deel doen.”

Werner Strauss, distriks­koördineerder vir AfriForum in die Noord-Kaap, beaam.

“Dit is belangrik om die gemeenskap te betrek by die projekte omdat dit die enigste manier is om absolute verval in Keimoes te verhoed.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article