Die verhoor van ’n vermeende verkragter wat ná maande se wag forensiese waarneming ondergaan het, se verhoor is op Vrydag 13 September in die hooggeregshof in Kimberley tot volgende jaar uitgestel.
Douglas Mthukwane, eertydse departementele woordvoerder van onderwys en vryskutjoernalis, ontken skuld op vier aanklagte van verkragting.
Hy was ’n maand lank opgeneem.
Catherina Jansen, aanklaer, het gesê die staat het pas die verslag van medici ontvang en dit aan die verdediging oorhandig, wat dit nou moet bestudeer.
Mthukwane word daarvan verdink dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield verkrag het.
Hy moes die meisie skool toe vat, maar het haar glo eers na sy woonstel geneem.
Hy het haar glo gedreig met iets wat soos ’n vuurwapen lyk.
Ná die beweerde verkragting het hy haar skool toe geneem, waar sy ’n onderwyser ingelig het.
ln die ander voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ’n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra.
Sy het ingestem om saam te ry.
Hy het haar na ’n veld geneem en met iets wat soos ’n vuurwapen lyk, gedreig en na bewering verkrag.
ln nog ’n beweerde voorval het hy op 15 Mei 2019 ’n vriendin gevra om saam met hom na sy woonstel te gaan om sy skootrekenaar te kry, waar hy haar glo twee keer verkrag het.
Renier Pieterse tree namens Mthukwane op.
Waarnemende regter Sharon Erasmus het die saak tot 10 Maart uitgestel.


