Die voordele van onderrig in ’n moedertaal kan slegs ontsluit word indien kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang.
“Vir baie ouers weeg die gehalte van die onderrig swaarder as die feit dat hul kinders in hul moedertaal onderrig word,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).
“Dit is hoekom ouers dikwels nie hul kinders in die skole naaste aan hulle plaas nie; hulle weeg afstand, bykomende koste en onderrig in die kind se tweede taal op teen swak onderrig in die kind se moedertaal in ’n skool naby aan hul tuiste.”
Internasionale Moedertaaldag is Maandag (21/02) gevier om meertaligheid te bevorder en die belangrikheid van moedertaal-onderrig te beklemtoon.
Deacon sê die uitdaging van moedertaalonderrig is nie net een vir die staat nie.
“Elke rolspeler moet sy kant bring om toe te sien dat wanpresterende skole begin funksioneer. Gehalte-onderrig in ’n moedertaal op laerskool sal bydra tot beter prestasie op hoërskool en beter matriekuitslae.
“Ons 11 amptelike tale is ’n bate, met die meeste mense wat minstens twee tale magtig is. Meertaligheid dra by tot kreatiewe denke, wat die basis vir unieke oplossings vorm.”