Hoofartikel: Volwassenheid nodig vir beter jaar

Die nuwe jaar het skaars sy oë oopgemaak of natuurrampe en mensgemaakte gebeure skuur skouers vir aandag in koerantopskrifte.


Die nuwe jaar het skaars sy oë oopgemaak of natuurrampe en mensgemaakte gebeure skuur skouers vir aandag in koerantopskrifte.

Oorstromings, verdrinkings, motorongelukke, brande – selfs by die Parlementsgebou – en kommentare oor die ANC se 110de verjaardagvieringe draf saam met Covid-19 en sy jong telg, Omikron, moeiteloos en fiks saam met die nuuskar wat elke dag deur diep waters vol gebeure ploeg.

Volg ’n mens plasings op sosialemediaplatforms, is dit asof verlede jaar se plaaslike verkiesing – waarin landsburgers met ’n anonieme kruisie ’n verskil kon maak – nie gebeur het nie.

Mense kla oor presies dieselfde sake en meld presies dieselfde kwessies aan: swak dienslewering, besoedelde drinkwater, kragonderbrekings, leë krane, oorstroomde en verstopte rioolstelsels, slaggate, korrupsie, diefstal, oneerlikheid . . .

(En dan is die spreekwoord “ ’n nuwe besem vee skoon” sowaar nog in gebruik.)

In April gaan Suid-Afrika se demokrasie sy 28ste verjaardag vier. Op 28 word ’n mens reeds as ’n volwassene beskou.

Volgens ’n artikel in die New York Post – geskryf na aanleiding van ’n nuwe studie – word mans amptelik op 26 jaar as volwasse beskou, en vroue op 23.

Volgens dié artikel sluit tekens van volwassenheid die volgende in: die gebruikmaking van ’n begroting; aankoop van ’n huis; indien van belasting; die verstaan en kontrolering van jou kredietstand; die gebruikmaak van beleggings; die was van jou eie wasgoed; gereelde doktersondersoeke; die wil om meestal jou eie etes te berei; en die volg van nuusgebeure.

Vergelyk ’n mens die 28-jarige Demokrasie hiermee, lyk dit asof hy (of is dit sy?) nog heelwat aan die status van volwassenheid moet werk.

Kundiges het lank reeds bevind dat ’n ouer of ’n volwassene die beste lei en onderrig deur self ’n voorbeeld te stel. Kyk ’n mens na die mensgemaakte toestande om jou – wat nie net die regering of die munisipaliteite se toedoen is nie – wil-wil ’n mens moed verloor dat die jongeling Demokrasie enigsins ’n voorbeeld kry.

Mag 2022 die jaar wees waarin volwassenes leer om soos volwassenes op te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.