Honderde grootflaminke en ander watervoëls het op ’n nie-standhoudende pan op ’n wildplaas van Trevor Datnow van Marrick Safari buite Kimberley neergedaal.
Dit is danksy die afgelope buitengewone reënseisoen. Boonop is dit in teenstelling met ’n jaar gelede, toe sy plaas groot skade in verwoestende brande opgedoen het.
Datnow sê hy het meer as 1 200 mm reën sedert Oktober gehad – meer as drie keer die gemiddelde reënval. Hy het nog nooit soveel reën gehad in die 30 jaar dat hy op die plaas bly nie.
“Die voëllewe is te pragtig vir woorde. Dit is soos die hemel om al die watervoëls op die pan te hê, wat ’n natuurlike vleiland word wanneer dit water het. Tydens die jarelange droogte was dit ’n stowwerige en kurkdroë pan wat onder die son in 40 °C gebak het.”
Die reënbuie wat van Oktober af neergesif het, het nie opgehou tot in Junie nie.
“Dit was gereelde, deurdringende buie, anders as die gewone donderstorms waarna die pan sommer vol water is. Die water in die pan is nie diep nie, maar blywend, want die grond is versadig. Ek kon my oë nie verlede week glo nie toe ek eers twee of drie grootflaminke sien, toe 100 en die dag daarna meer as 250.
“Die ander watervoëls is net so indrukwekkend, soos die geelborsstrandkiewiete, waarvan ek ’n nes ontdek het.”
Hy het dadelik sy langlenskamera uitgehaal en sy trefferfoto’s van die flaminke op die sosiale media geplaas. Sy versameling voëllewe-boeke is altyd in sy voertuig, en hy verwys daarna wanneer hy in die veld ry. Hy sien gereeld nog die gevlekteooruilkuikens wat pas leer vlieg het.
“Die grootflaminke vreet smaaklik aan brachiopoda-skaal-en-weekdiere wat aangepas is om in ekstreme pan-toestande te oorleef en vinnig voort te kan plant sodra daar water is. Dit is ook wanneer die voëls in hul honderde opdaag.
“Ek verwag sodra die groen alge begin groei, gaan die kleinflaminke ook kom. Daar is bitter min kleinflaminke op die Kamfersdam aan die ander kant van Kimberley, waar die water te diep is vir hulle om by die alge uit te kom waaraan hulle vreet.”
Datnow vermoed die lede van die Gariep-voëlklub gaan binnekort met hul kameras en verkykers op sy plaas opdaag om hulle aan die watervoëls te verwonder.


