By die oorhandiging van die 65 jaar-diensjaarkenteken is van links Bessie Kriek (ontvanger en argivaris), Arina Beukes (voorsitter), Alta Roets (saamroeper vir gesondheid) en Petro Spangenberg (voormalige saamroeper vir kuns en handvlyt).

Foto: Karin van der Walt

Die argivaris van die VLV Kuruman-tak is onlangs vir 65 jaar se lidmaatskap aan dié vereniging vereer.

Bessie Kriek kon nie die tak se jaarafsluiting en prysuitdeling op 20 November bywoon nie.

Op 28 November het die nuutverkose voorsitter van die tak, Arina Beukes, vergesel deur Alta Roets (saamroeper vir gesondheid), Petro Spangenberg (voormalige saamroeper vir kuns en handvlyt) en Karin van der Walt (saamroeper vir opvoeding en kultuur) die 65-diensjaar­kenteken aan Kriek in haar kamer by die Mimosahof-tehuis vir bejaardes oorhandig.

Ander lede van die tak wat met diensjaarkentekens vereer is, is Marelie Keuler (50 jaar), Susan van Straten (35 jaar), Joeks Myburgh (30 jaar), Noeline du Toit (15 jaar), Elmarie Theron (15 jaar), Emmie Cloete (15 jaar), Elien Menge (tien jaar) Lynn Nel (tien jaar), Alta Roets (tien jaar), Carla Salim (tien jaar) en Anet Strauss (tien jaar).

Die bestuurder van Mimosahof, Magda Swanepoel, wat op 8 Desember haar ses jaar lange dienstydperk beëindig, is ook op 20 November deur die tak vereer.

Sy word as ’n “aanmoediger en drukkie-uitdeler” beskryf. Swanepoel sê gereeld dat Mimosahof aan God behoort en dat God ’n goeie plaasvervanger sal voorsien.

Sy het ook ’n spesiale VLV-voorskoot ontvang wat deur Van der Walt gemaak is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article