Die deel van kennis, asook vrugte van die gees, was onder bespreking op die eerste byeenkoms vir 2023 van die Openbaresake-groep van die Vrouelandbouvereniging (VLV) se Kuruman-tak.
Dié byeenkoms is aan die einde van Januarie by die El Gibbor Kalahari Biker’s Church in Kuruman gehou. Past. Graeme Kumm het die tema “Kennis wat nie gedeel word nie, het geen krag”, bespreek.
In ligte luim het hy genoem dat dit kennis is om te weet ’n tamatie is ’n vrug, maar dat dit wysheid is om dit nie in ’n vrugteslaai te gebruik nie.
Net so, het Kumm gesê, kan ’n mens die regte dinge sê, maar nie die regte dinge doen nie. Kennis is mag, maar kennis is nie net inligting nie.
Dorina van Niekerk het die lede oor bidbeertjies ingelig. Sy is deel van die nasionale Bidbeertjie-groep, wat die Teddie-Tannies genoem word.
Betrokkenes by Bidbeertjie ontvang breipatrone en instruksies, asook Bybeltekse wat gebid of opgesê word tydens die brei van ’n spesifieke beertjie. Op dié manier word die boodskap van die tekse aan die ontvanger opgedra.
’n Vierkant met die woorde “Jesus loves me” kan ook op die beertjie vasgewerk word.
Volgens Van Niekerk het sy twee beertjies vir haar kleinkinders gebrei, en hulle verkies dit bo ander speelgoed.
Die lede is dit eens dat dit ’n vrugtevolle byeenkoms was.


