Op die 30ste herdenkingsdag, in 2004, van die vliegongeluk is van links, voor: Salmon van Wyk en Libby Stark

Libby Stark (80) het 50 jaar gelede, op 16 Oktober 1974, ’n tweede kans op die lewe gekry toe sy op wonderbaarlike wyse ’n vliegtuigongeluk in die Roggeveldberge oorleef het.

Daarom dat sy vanjaar die afstand vanaf Vishoek na Victoria-Wes aangepak het om die 50ste herdenking van hierdie dag saam met Gerrit Steenkamp en sy vrou te vier.

Gerrit, toe 20 jaar oud, het haar met behulp van ’n plaaswerker in die nag bergaf gedra.

Libby, ’n kollega en ’n vlieënier was besig met minerale opmetings in die omgewing toe sterk wind en lugstrome die vliegtuigongeluk veroorsaak het. Haar kollega het nie oorleef nie. Libby was ernstig beseer en die vlieënier, Nico Smith, was genoodsaak om in dié bergagtige gebied hulp te gaan soek.

Die vliegtuig ná die ongeluk in die Roggeveldberge.

Intussen is Gerrit se oom deur ’n buurman oor die ongeluk ingelig. Gerrit was net vir die dag op die plaas en aangesien hy redelik vertroud met die omgewing was, is hy en Salmon van Wyk te perd bergop na die vliegtuig.

Volgens Libby het sy geweldige verligting ervaar toe die twee mans haar bereik het. Weens haar beserings kon sy nie te perd vervoer word nie. Gerrit en Salmon het beurte gemaak om haar bergaf te dra.

“Dit was donker en mistig met afgronde aan die een kant en slagysters wat vir wilde diere gestel is, oral in die veld.”
Gerrit Steenkamp

Ná vier kilometer in dié toestande en ’n paar uur later, was die terrein toeganklik vir ’n trekker en sleepwa. Gerrit en Libby het by ’n vuurtjie gewag terwyl Salmon die trekker gaan haal het. Nog hande en warm koffie het Salmon vergesel en om 22:30 was Libby se redding voltooi.

Sy is na die hospitaal in Calvinia geneem.

Intussen het die vlieënier, wat nie die omgewing geken het nie, ook sy weg tot by die plaashuis gevind.

Libby het volkome genees, die wêreld verken en met haar terugkeer na Suid-Afrika weer vir Gerrit gekontak.

Met die 30ste herdenking van die ongeluk het Libby, Gerrit, Salmon en Nico die reddingsroete gaan stap.

Vanjaar het Libby en Gerrit die 50ste herdenking alleen gevier. Salmon is oorlede en met Nico het hulle kontak verloor. ’n Spesiale vriendskap het tussen Libby en die Steenkamps ontwikkel.

Gerrit Steenkamp en Libby Stark tydens die 50ste herdenkingsdag van die vliegongeluk waarin Libby ernstig beseer was.

“Ek beskou Gerrit as my redder. Ek wil dié dag saam met niemand anders deurbring as saam met hom nie,” sê sy.

  • Volgens die teks en foto’s van Nico Willoughby-Smith op Bureau of Aircraft Accidents Archives (baaa-acro.com), het die vliegtuigongeluk in die Roggeveldberge in die omgewing van Calvinia en Fraserburg plaasgevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article