Virus-paniek neem toe

Die koronavirus het amptelik die John Taolo Gaetsewe-distrik bereik.


Die koronavirus het amptelik die John Taolo Gaetsewe-distrik bereik.

’n Vrou (58) wat onlangs positief vir Covid-19 getoets het, woon in die omgewing van die Ga-Segonyana-munisipaliteit.

Sy is verlede week in ’n hospitaal in Kimberley positief vir die virus getoets nadat sy opgeneem is vir ’n jarelange chroniese toestand wat nie met Covid-19 verband hou nie.

Sy word tans in isolasie in dié hospitaal vir die virus behandel.

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid en die plaaslike regering het nie op navrae via SMS, WhatsApp, e-pos of per foon oor waar die vrou in Ga-Segonyana woon, reageer nie.

Grootskaalse paniek het sedert Sondag (10/05) in dorpe in die Noord-Kaap uitgebreek nadat fopnuus oor Covid-19 hier versprei is.

Gerugte dat die Covid-19-pasiënt in Kuruman, Batlharos, Motibistad, Postmasburg en Daniëlskuil woon, is deur WhatsApp-boodskappe wyd en syd versprei.

Noord-Kapenaars het op die provinsiale gesondheidsdepartement se Facebook-blad teen die departement uitgevaar.

Millicent Makgetla Tlhogi het geskryf meer inligting is nodig.

“Waar was die vrou voordat sy in die hospitaal opgeneem en getoets is? Ons weet sy is van John Taolo Gaetsewe, maar mense reis en bly met familielede ens. Ons wil weet waar hulle was, met spesifieke tydlyne.”

Jandri de Villiers wil weet of die regering net kan sê waarheen die mense die afgelope week of twee gereis het voordat hulle positief getoets is.

De Villiers meen dat as die persoon by ’n myn in die omgewing werk, kan duisende mense reeds met die virus besmet wees.

Intussen is ’n 62-jarige man wat Covid-19 onder lede het, onder selfkwarantyn tuis in Lime Acres.

Volgens die gesondheids­departement is hy positief vir die virus getoets nadat hy in ’n hospitaal in Kimberley ’n operasie moes ondergaan.

Andrew Louw, leier van die DA in die Noord-Kaap, het gesê die DA in die provinsie het volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ’n versoek aan die provin­siale gesondheids­departement gerig om gereeld deursigtige provinsiale data oor die koronavirus te bekom.

“Ons soek volledige inligting ten opsig van die aantal toetse, die getal pasiënte wat herstel het, die munisipale voorkomingsyfers en die verspreiding in distrikte.”

Hy het ook gesê die party moet daagliks ingelig word oor hoeveel pasiënte weens die koronavirus in provinsiale hospitale opgeneem is, waar hulle opgeneem is, hoeveel pasiënte van asemhalingsapparate afhanklik is, hoeveel pasiënte in kwarantyn afgesonder is en waar die geriewe vir afsondering geleë is.

“Die verslae moet daagliks uitgereik word. Soos die virus versprei gaan die inligting toenemend belangriker word om die gereedheid van gesondheidsgeriewe te bepaal.”

Louw het gesê dit kan ook dien as ’n vroeë waarskuwingstelsel en kan gebruik word om die behoefte aan bykomende ingrypings­maatreëls vroegtydig te bepaal sodat die verspreidingskurwe gehaal kan word en die gesondheidstelsel nie oor­weldig word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.