Weens misvorming van die skelet, gepaardgaande met erge pyn, kon Elsabé Malan (foto) van Kimberley die afgelope vyf jaar nie die buitelug en haar tuin beleef en geniet nie. Trappe by die voor- en agterdeur het haar mobiliteit gestrem, omdat sy van ’n rolstoel gebruik maak. ’n Vrou van die stad, wat anoniem wil bly, het hiervan te hore gekom en R6 400 aan die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede in die Frances Baard-distrik (APD-FB) geskenk vir ’n oprit aan die voorkant van Malan se huis. Groot was die opwinding toe die oprit klaar deur Ecoflash gebou is en Malan in haar rolstoel uit die huis kon beweeg. Malan sê sy het nie woorde om haar dank uit te spreek aan die skenker nie, en sy bid dat die Here haar sal seën. “Dit is die mandaat van APD-FB om die lewe vir sulke mense makliker te probeer maak. Met geld wat ons onder meer met Loslitdag insamel, bring ons ’n verskil mee en doen ons bewusmaking,” sê Dorothy-Anne Howitson, sekretaris van die APD-FB.

Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article