Vier lede van ’n vermeende Vrystaatse rowerbende wat glo ’n winkel in Boshof met ’n speelgoedgeweer beroof het, bly vir eers agter tralies.
Chantel Juanita van der Bergh (31), Heinrich George Schuin (43), Tommy Bothma (36) en Randy Langman Mapoe (37) het reeds vlugtig in die hof in Boshof verskyn.
Van der Bergh en die drie mans is vasgetrek nadat ’n buitelandse sakeman op Vrouedag, 9 Augustus, glo met ’n speelgoedvuurwapen in sy winkel gedreig en beroof is. Die rooftog het in die New Extension-woonbuurt by Seretse in Boshof plaasgevind.
Geld, asook ’n groot hoeveelheid winkelvoorraad is geroof, waaronder sigarette, aanstekers, selfone en ’n toestel waarmee lugtyd verkoop word, sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Hulle word aangekla van sakeroof en bly in aanhouding. Hulle sal weer op 25 Augustus in die hof verskyn, wanneer hulle moontlik om borgtog aansoek sal doen.
Thakeng sê die winkeleienaar en nog mense het die rowers se voertuig met klippe bestook toe hulle van die toneel padgee.
Die polisie in Boshof en Dealesville het die polisie se misdaadplan geaktiveer en na hulle gesoek. Hul Ford Everest is ’n ruk later gesien op ’n grondpad naby Dealesville, waar dit in die modder vasgeval het. Hulle is binne drie uur ná die beweerde rooftog aangekeer.
’n Verteenwoordiger van die SAPIS/Syntell Agri-struktuur, waarin boere en die gemeenskap saamstaan om misdaad te beveg en wat deur die maatskappye geborg word, sê dit is reggekry danksy blitsvinnige optrede en samewerking tussen die gemeenskap, boere, die polisie, die blitspatrollie en die taktiese reaksie-eenheid.
Thakeng sê Bothma word ook verdink van ’n inbraak in Bayswater, Bloemfontein, en Mapoe staan in ’n ander verhoor tereg weens die beweerde onwettige besit van perlemoen.
Bothma is oorspronklik van Virginia en Schuin van Bloemfontein.
– Berig bygewerk


