’n Feestelike vrugtekoek kan vanjaar ook op jou Kersfeestafel pryk.

Foto: Verskaf

Oor net minder as twee maande is dit Kersfees, en nou is die regte tyd om solank bestanddele vir ’n vrugtekoek, wat deel van die Kersfeestradisie is, bymekaar te kry.

Dit word aanbeveel om dié feestelike vrugtekoek van sjef Mynhardt Joubert minstens een maand voor Kersfees te bak.

’n Feestelike vrugtekoek kan vanjaar ook op jou Kersfeestafel pryk.

Sjef Mynhardt en sy kookvennoot, Tiaan Langenegger, was in 2013 die wenners van kykNET se eerste Kokkedoor-reeks. Sedertdien het Joubert vir homself behoorlik naam in die kulinêre wêreld gemaak, en boonop bied sy kombuis vanjaar die sewende Feesvrugtekoek-liefdadigheidsveldtog aan.

Hy beoog om vanjaar 2 500 van sy ikoniese vrugtekoeke te verkoop, wat bakens van hoop word terwyl hulle op feestafels oor die land heen pryk.

“Ek hoop die koek verteenwoordig die boodskap van oorvloed aan elkeen wat vanjaar ’n koek gee en moedig almal aan om lig en lag daarmee te skep.

“Kersfees is ’n vreugdevolle tyd, en die vermoë en voorreg om te gee maak dit soveel meer spesiaal. Ek is opgewonde om te sien hoe dit in stories rondom ons manifesteer,” sê hy.

Maak sy feestelike vrugtekoek só:

Bestanddele:

400 ml water

100 g botter

200 g sagte bruinsuiker

400 g vrugtekoekmengsel

250 g dadels, gekap

100 g goue sultanas

200 g heel amandels, grof gekap

7 ml koeksoda

3 eiers, geklits

20 ml vanielje-ekstrak

75 ml brandewyn plus 75 ml

100 g heel rooi glacé kersies

100 g heel rooi glacé kersies

200 g bruismeel

5 ml sout

5 ml fyn kaneel

Instruksies:

1. Verhit die oond vooraf tot 120 °C met die rak in die middel. Smeer ’n diep koekpan van 25 cm, voer dit uit met drie lae bakpapier en smeer die boonste laag.

2. Bring die water, botter, suiker, vrugte en amandels in ’n groot kastrol tot kookpunt. Prut vir vyf minute. Voeg die koeksoda by, meng deur en verwyder van die hitte. Laat heeltemal afkoel.

3. Meng die eiers, vanielje en brandewyn in ’n ander bak en voeg dit by die afgekoelde vrugtemengsel. Voeg die kersies, meel, sout en kaneel by en meng goed; maak seker dat al die meel ingewerk is. Gooi die mengsel in die voorbereide koekpan en bak vir twee ure of totdat ’n toetspen wat in die middel gesteek is, skoon uitkom (klam, maar nie deegnat nie).

4. Sodra die koek uit die oond kom, drup die orige brandewyn daaroor en laat in die blik afkoel. Bêre die koek in ’n lugdigte houer en bevogtig dit een keer per week mildelik met brandewyn om dit te laat ryp word en die geure te laat ontwikkel.

5. Om die koek klam te hou, draai dit toe in bakpapier, bedek dit in kleefplastiek, en bêre dit in ’n lugdigte houer. Nadat dit ’n paar weke ryp is, is dit maklik om te vries.

Om een van sjef Mynhardt se Kersfeeskoeke vir die feestyd te bestel, stuur e-pos na cake@mynhardt.co.za. Die koeke word landwyd afgelewer.

– Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article