Die ongelukstoneel waar die motor en die bakkie gebots het.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Vier mense is Vrydag (13/01) dood en nog agt matig tot ernstig beseer toe ’n motor op die R380-pad tussen Deben en Kathu glo teen ’n hoë spoed reg van voor teen ’n bakkie gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 17:00 op die treinbrug naby Deben­ gebeur, sê lt. kol. Sergio Kock. Hy sê die polisie in Deben ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

Drie mans en ’n vrou wat in die motor was, is op die toneel dood verklaar. Nog ’n vroulike passasier is met ernstige beserings na die hospitaal geneem.

Monica Joubert, mede-eienaar van MM Konstruksie, aan wie die Mahindra-bakkie behoort waarteen die motor gebots het, sê haar dogter, Makayla (18), was saam met haar werknemers van Kathu op pad na die huis toe die ongeluk gebeur het. Sy het saam met Dylan­ van der Merwe, wat bestuur het, in die kajuit gesit.

Volgens Van der Merwe het hulle teen sowat 85 km per uur gery toe hy die motor uit Deben se rigting op hulle sien afpyl. Hy het nie genoeg tyd of beweegruimte gehad om ’n ongeluk te vermy nie.

“Op die brug waar die ongeluk gebeur het, is twee duike in die pad waar die brug al begin wegsak het. Volgens Dylan het hy rook by die motor se voorwiele sien uitkom toe die motor die tweede duik tref,” het Joubert gesê.

Makayla het haar ma, wat tuis aansterk ná ’n voetbesering, gebel. Haar pa, Morné, het die oproep beantwoord en hom dadelik na die toneel gehaas.

Op daardie tydstip het Monica se seun, Marcello, vir Van der Merwe geskakel. Hy is ook na die toneel.

Joubert se skoonpa was ook toevallig op pad huis toe en ’n entjie agter die Mahindra toe die ongeluk voor hom gebeur het. Hy het dadelik hulp verleen.

Joubert sê haar man het gesien dat die motor se spoedmeter gestaan het op 185 km/h. Die stuurstang is sowat 700 m van die ongelukstoneel gevind.

Die vermoede is dat die bestuurder van die motor beheer verloor het toe die motor die tweede duik getref en die stuurstang gebreek het.

Joubert doen ’n beroep op padgebruikers om die paaie uiters paraat en bedagsaam te gebruik. Sy sê die paaie is berug vir ongelukke en nie op ’n aanvaarbare standaard nie.

Die polisie het nog nie die name van die vier slagoffers bekend gemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article