Kuberin Packirisamy (60), gewese finansiële hoof, praat met adv. Laurance Hodes SC, sy regsverteenwoordiger.

Foto: Charné Kemp

Meer as twee jaar ná hul inhegtenisname het vier voor­malige hooggeplaaste amptenare van die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, finansies en toerisme op 25 Maart skuld in die spesiale handelshof in Kimberley op aanklagte van onder meer bedrog van R6,7 miljoen ontken.

Hulle word daarvan verdink dat hulle in Maart en April 2011 saamgesweer het om die departement met wanvoorstellings te bedrieg oor ’n dringende behoefte aan ongeslypte diamante om studente by die Kimberley International Diamond and Jewellery Academy (Kidja) op te lei in diamantslyp en -poleer.

Nóg die amptenare nóg Kidja het op die betrokke tydstip ’n lisensie of permit gehad om in diamante te handel. Kidja is in 2008 deur die departement en De Beers gestig as deel van die “Diamantstrategie” om beleggers te lok deur diamante te veredel en studente te bekwaam.

Tenderprosesse nie gevolg
Die diamante van 1 429 karaat is na bewering teen R6,7 miljoen van wyle Dean Snyders se Uniteam Investments-besigheid aangeskaf sonder dat die vereiste tenderprosesse gevolg of die diamante vooraf geëvalueer is.

Ander waardeerders het later die waarde minder geskat as wat betaal is. Die diamante is in Uniteam se kluis geberg, waarvoor die departement verantwoordelik­heid sou neem as dit verdwyn. Toe die ouditeur-generaal (OG) dit meer as ’n jaar later tydens ’n oudit wou inspekteer, het dit verdwyn.

Die vier beskuldigdes is Patrick Seboko (66), voormalige departementshoof, Tebogo Basil Gaborone (46), gewese seniorbestuurder van projekte, Susan Lizette Wyngaard (56), voormalige hoofdirekteur van handels- en sektorontwikkeling, en Kuberin Packirisamy (60) gewese finansiële hoof.

Kuberin Packirisamy (60), gewese finansiële hoof, praat met adv. Laurance Hodes SC, sy regsverteenwoordiger.

Benewens bedrog word hulle ook afsonderlik of gesamentlik van oortredings van die Wet op Diamante en die Wet op Open­bare Finansiële Bestuur aangekla.

Seboko as rekenpligtige beampte het glo vrugtelose, vermorste en ongemagtige uitgawes aangegaan deur nie tenderprosesse te volg wat regverdig, deursigtig, koste-effektief en kompeterend is nie.

Gaborone het glo ’n memorandum opgestel waarin toestemming gevra word om van die verkrygingsprosedures af te wyk, terwyl Wyngaard die aankope namens Kidja aanbeveel het.

Packirisamy het glo uiters nalatig opgetree deur ’n dokument te teken waarin Snyders geen verantwoordelikheid vir die diamante in sy kluis neem nie.

Die staatsbates is nie beveilig en geen versekering is op die diamante uitgeneem nie.

Riaan Bode, namens Wyngaard, het voordat die beskuldigdes sou pleit en in akkoord met die ander regsverteenwoordigers, betoë gelewer oor sekere aantekenings wat die verdediging wou indien.

Die aantekeninge is vergesel deur “baie belangrike” dokumente wat hulle wou hê die staat se forensiese ouditeur moet bestudeer indien hy sy verslag daarna wil aanpas. Adv. Willie Els, aanklaer, het geweier en gesê die verslag word nie aangepas nie.

Die beskuldigdes het geen pleitverduidelikings of erkennings ingedien nie, maar aangedui hul verweer sal in kruisondervraging na vore kom.

Jabulani Mahlango is die forensiese ouditeur wat die beweerde misdade ondersoek en die verslag saamgestel het. Sy verslag wat die verdediging as hoorsê getuienis bestempel, is voorwaardelik toegelaat.

‘Dringende aankope van diamante onnodig’
Mahlango het in sy getuienis bevind die dringende aankope van die diamante was onnodig en bedrieglik. Kidja se opleidings­diamante word deur Zurel Brothers verskaf.

’n Tenderproses is glo nie gevolg nie en in teenstelling met die Diamantstrategie het Uniteam, ’n Kimberleyse maatskappy eerder as beleggers van elders, die kontrak bekom.

Amptenare het na bewering geen poging aangewend om ander diamanthandelaars vir kwotasies te vra nie en het van meet af net een verskaffer bevoordeel. Ten tyde van die datum op die memorandum waarin Uniteam as verkoper met genoeg diamante aanbeveel is, het Uniteam ingevolge die Diamantregister nie genoeg diamante gehad nie en moes hulle dit aankoop.

Sou die departemente dit self by die betrokke verskaffer gekoop het, sou hulle meer as ’n miljoen rand minder betaal het. Nadat die diamante aangekoop is, is dit net geberg. Dit dui op geen dringendheid om die diamante aan te skaf nie en dit is ook nooit na Kidja vir opleiding gebring nie.

Streeklanddros Vernon Smith het die verhoor tot 1 Augustus uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.