Die Apolloteater in Victoria-Wes.

Foto: Elize Perrin

Die Apolloteater in Victoria-Wes, sover bekend die oudste en enigste oorspronklike teater in Art deco-styl in Suid-Afrika, se glans het lank nog nie verdof nie.

Die N12, wat onder meer deur Victoria-Wes strek, staan as die Diamantroete bekend. Hoewel ’n mens nie blink klippies in die dorpie gaan vind nie, vertel die inwoners besoekers graag meer oor die Apolloteater.

Die Apolloteater in Victoria-Wes.

Die Apolloteater was die geesteskind van Andrew Bassil, ’n Griekse immigrant, en het oor die jare baie plesier aan menige inwoner en besoekers uit die omgewing verskaf.

Vandag bied die Apollo steeds ’n geleentheid om in die oorspronklike stoele agteroor te sit en te ontspan.

Die Apollo se asem is nog lank nie uit nie. Dit is in 2023 opgeknap met geldelike ondersteuning van Lottoland en kan met nuwe asem die gemeenskap en omgewing dien. Besoekers uit ander provinsies is ook hartlik welkom.

Heelwat geleenthede is reeds in plek en vele word nog beplan.

Roché Speak, leerlingbestuurder by die Apolloteater, by een van die oorspronklike projektors.

Op 16 Maart om 18:00 word ’n koorkonsert deur die plaaslike kore in die teater aangebied. Die aand se program fokus op kerkmusiek rondom Lydenstyd.

Elke aand vanaf 25 tot 28 Maart word rolprente, geskik vir die hele gesin, aangebied.

Een van die hoogtepunte is die tweede ATKV-toneelfees vanaf 11 tot 13 April wat in die dorp aangebied gaan word en van die funksies en opvoerings sal by die Apolloteater plaasvind.

Ander lekkertes wat nog in die pyplyn is, sluit ’n komedie deur Ilne Fourie en opvoerings deur André Swiegers en Stef Kruger in. Fliekaande, talentkonserte, speletjiesaande, ’n Kersmark en Kerskonserte lê ook en wag.

Vir meer inligting oor enige van bogenoemde gebeure op die program, bel vir Roché Speak by 067-062-9278.

You need to be Logged In to leave a comment.