VF Plus ‘versigtig optimisties’ oor NK-munisipaliteite

Dit gaan nie maklik wees om 30 jaar se verwaarlosing van munisipale infrastruktuur en administrasie reg te ruk nie. So sê Theo Joubert, VF Plus LW, wat Dinsdag 9 Julie tot voorsitter van die portefeuljekomitee van plaaslike regering in die Noord-Kaapse wetgewer verkies is.


Dit gaan nie maklik wees om 30 jaar se verwaarlosing van munisipale infrastruktuur en administrasie reg te ruk nie.

So sê Theo Joubert, VF Plus LW, wat Dinsdag 9 Julie tot voorsitter van die portefeuljekomitee van plaaslike regering in die Noord-Kaapse wetgewer verkies is.

Sy verkiesing volg ná die onlangse nasionale en provinsiale verkiesing waarin die ANC sy meerderheid ook in die Noord-Kaap verloor het. Die ANC in die Noord-Kaap, wat net die helfte van die 30 setels behou het, het ’n ooreenkoms met die VF Plus wat een setel het, aangegaan om met ’n meerderheid te regeer.

Joubert sê hy het reeds sedert 2012 uitgebreide ondervinding op munisipale vlak as ’n vrywilliger opgedoen, en later as VF Plus-raadslid by die Phokwane-munisipaliteit en die Frances Baard-distriksmunisipaliteit.

“Ek het daarom uitgebreide en diepgaande kennis van Phokwane in Hartswater, en ook van die Renosterberg-munisipaliteit in Petrusville wat leierskapsprobleme van bo na onder en selfs in die raad het. Ons munispaliteite is wanfunksioneel en onvolhoubaar, en dit moet omgekeer word.”

Hy sê daar is vele kwelpunte wat indringend ondersoek moet word om oplossings te verkry

“Ek is optimisties dat die hele komitee, wat uit vyf ANC-, twee DA-, een EFF- en een PA-lid bestaan, toegewy is om munisipale probleme op te los. Die verkiesingsuitslae het vir die partye aangedui dat inwoners verandering wil sien.

“Dit gaan nie maklik wees om in die volgende vyf jaar die nodige veranderinge te bring nie. Ek verwag daar gaan weerstand van munisipaliteite wees, eerder as om saam te werk en oplossings te bewerkstellig.”
Theo Joubert

Hy sê die eerste taak is om die sesde administrasie se verslae te bestudeer en te bepaal hoe die sewende administrasie die leisels gaan optel. ’n Behoeftebepaling moet gedoen word om die grootste kwelpunte by munisipaliteite te identifiseer en planne op te stel om dit op te los.

“Ons as komitee sal as deel van ons werk aanbevelings aan die provinsiale regering maak oor wat by munisipaliteite moet verander om hulle meer funksioneel te maak. Uiteindelik moet die regering aan die wetgewer verslag doen.

“Ons oorsigrol is om verantwoordbaarheid in te stel.”

Dr. Wynand Boshoff, LP en VF Plus provinsiale leier, sê hul rol in die komitee is om te verseker die Noord-Kaapse departement van plaaslike regering, menslike nedersettings en tradisionele sake doen verslag aan die wetgewerkomitee.

“Die komitee het baie mag om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Sê nou jou munisipaliteit doen nie sy werk nie, of stel onbevoegde mense aan: Jy kan by die munisipale raad kla, maar hulle doen ook niks nie. Jy kla by die minister, maar hy ignoreer jou. Dan is jou volgende plan die komitee. Hulle kan die burgemeester dagvaar om te kom verduidelik wat aangaan. As hulle onwettig optree, kan die komitee hulle dwing om dit reg te stel.

“Met die VF Plus aan die hoof van hierdie deurslaggewende komitee kan ons ’n groot verskil aan plaaslike regering maak. Ons gaan nie kop in een mus met die skelms of onbevoegdes wees nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.