Die klassieke Waldorf-slaai is meer as 100 jaar gelede vir die eerste keer in New York, in die Waldorf Astoria-hotel bedien en dit bly ’n klassieke slaai. Die resep van Annelien Pienaar, uit haar boek Boerekos met ’n Twist, vervang die druiwekorrels met rosyne en sit karringmelk of jogurt by die mayonnaise. Dit is ’n vars somerslaai en die perfekte pasmaat vir ’n braai.

Jy benodig:

3 groot rooi appels met skil, in blokkies gesny

3 groot Granny Smith-appels met skil, in blokkies gesny

3 selderystingels, gekap

75 g rosyne

100 g pekanneute, gerooster en gekap

125 ml mayonnaise

125 ml karringmelk of gewone dubbelroomjogurt

15 ml suiker, heuning of versoeter

Só maak ’n mens:

1. Meng die mayonnaise, karringmelk of jogurt en suiker saam. Meng die res van die bestanddele en giet die sous oor.

2. Roer deur en plaas in die yskas vir ten minste ’n uur voordat jy dit wil voorsit.

– Karla Janse van Vuuren, Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.