Ons sug oor baie dinge.
Oor korona, politiek, ekonomie, geweld, misdaad, oor ons gesinslewens en huwelike. Kortom, ons worstel met die lewe!
In Romeine 8:12-25 word ook gepraat van mense wat “sug”, wat swaarkry omdat alles nie vlot verloop nie. Hierdie verse gee vir ons woorde om te praat oor ons belewenis van die wêreld.
Die uitdagings van die wêreld is ook gelowiges se uitdagings. Aan die een kant vertrou ons die Here. Aan die ander kant sukkel ons daarmee en verloor ons geloofsenergie.
Paulus sê die wonderlike is dat God weet van ons gesug en nooit sy rug op ons nie draai.
Trouens, die Gees sug saam met ons. Dit is egter ’n sug van hoop!
Die hoop sê vir ons: Ons is soos atlete op pad na die wenpaal. Op pad daarheen gaan daar goeie tye en swaar tye wees. Maar in alles is die Here saam met ons in hierdie wedloop.
Glo ons dit? Is ek bereid om weer drome te droom, weer te begin leef? Is ek bereid om God te vertrou dat Hy die toekoms in sy hand het?
Ons moet by ’n punt kom waar ons sê: “Ek is bereid om God se oplossing te aanvaar.” Doen ek dit, dan sal die Gees my oortuig dat my gesug nie die einde van die pad is nie. Dit is eintlik net die begin van ’n lewe saam met die Here.
Die Heilige Gees help ons om in beweging te kom. Hy wil ons tonge losmaak, ons harte laat warm klop, ons oortuig om ons tyd, ons gawes, ons geleenthede en ons besittings te gebruik om mense te verseker van God se hoop.
Hoop moet geleef word. Navorsing wys 70 persent van jong mense in Suid-Afrika sukkel om met hoop te leef omdat hul ouers kla, kla en kla. Kom ons hoor dit.
Romeine 8:12-25 sê dit is die Heilige Gees wat ons in staat stel om elke dag as kinders van God te leef.
Vra die Heilige Gees om jou te help om met hoop te lewe te midde van swaarkry.