Met die aflewering van kospakkies in ’n woonbuurt sê ’n vrou iets wat my diep laat nadink.
“Ons mense verstaan hierdie ding (die koronavirus) heeltemal verkeerd. Dit het na ons toe gekom sodat ons na mekaar moet omkyk, maar nou kyk almal net na hulleself.”
Dit som my besorgdheid mooi op. Waar het ons geleer om ons eie belange op die hart te dra, maar ons naaste te vergeet? Waar staan dit in die Woord?
Petrus probeer sy lesers bewusmaak van die verandering wat gelowiges moet deurloop.
In 1 Petrus 2 fokus hy op vier sirkels van geestelike groei: persoonlike geloofsgroei, groei in ’n groep, gemeenskapsdiens en arbeidsverhoudinge.
Persoonlike groei begin deur God se wil vir ons lewe te leer ken. En dit kry ons in die Woord. Daarom die vraag: Watter rol speel die Woord in jou lewe? Om in Woordkennis te groei is iets wat jyself moet doen; iets wat niemand anders vir jou kan doen nie.
Ware Woordkennis behels nie net om intellektueel slim te word en tekste uit jou kop te ken nie. Die Woord moet jou op so ’n manier aanraak dat jy oortuig is van die waarheid daarvan en bereid is om jou lewe daarvolgens te verander.
Dit gaan om formasie, nie informasie nie.
Petrus moedig ons aan om alles wat ons geestelike groei strem, af te lê. Dit is dinge wat jou eie lewe benadeel – en nog meer belangrik, alles wat ander se lewe kan benadeel: bedrog, skynheiligheid, jaloesie en geskinder.
Dié dinge maak ware lewensgemeenskap met mekaar onmoontlik.
Dit keer dat ander vir jou tot ’n seën kan wees, en jy vir hulle.
Petrus sê ons moet soos pasgebore babatjies wees wat na ’n ma se melk smag. Hy sê ons moet met passievolle vreugde fokus op die “suiwer melk van die woord”; dit wat die Here net deur die Skrif – en deur Jesus self as die Woord van God – vir ons kan gee.
Ken die Woord, ken Jesus en sy wil, en verander om sy beeld aan te neem en Hom by mense te verteenwoordig.