Solidariteit Helpende Hand se opleidingsprogram vir tuisversorgers het binne ’n jaar van twee studiesentrums met 18 studente na vyf sentrums met 50 studente uitgebrei.
Die behoefte aan hierdie opleiding het ontstaan weens ’n toename in bejaardes wat verkies om by hul huis versorg te word pleks van by vreemde versorgingsinstellings, sê Benette Welman, projekorganiseerder van die tuisversorgingsprogram.
“ ’n Dringende behoefte aan tuisversorgers is die afgelope paar jaar gesien, en in 2021 is kragte met die Gratia Via-akademie saamgesnoer om ’n geakkrediteerde kwalifikasie in tuisversorging aan te bied,” sê sy.
Dié kursus, waarin teoretiese en praktiese sessies afgewissel word, word oor ’n tydperk van ses maande aangebied.
Die praktiese opleiding word by instellings in die omgewing van die sentrum aangebied.
“Studente wat hierdie kwalifikasie ontvang, is goed opgelei,” sê Welman.
“Die praktiese ervaring sal aan die student die nodige selfvertroue bied om, sodra die kursus voltooi is, hierdie dienswerk met die nodige kennis en ervaring uit te voer.”
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is tuisversorging nie ’n beroep waaroor ’n mens geneig is om te dink totdat jy of jou familielede dit nodig kry nie.
- Die vereniging se studietrust kon vanjaar rentevrye studielenings aan 15 van die 50 studente bied. Die vyf studiesentrums waar opleiding vanjaar begin het, is in Pretoria, Krugersdorp, Bloemfontein, die Paarl en Gqeberha (Port Elizabeth).