’n Foto van die voormalige Noord-Kaapse ANC-leier en veroordeelde misdadiger John Block wat onlangs op sosiale media verskyn het, het groot opslae gemaak.

In die foto is Block, pleks van in ’n oranje oorpak, in ’n pak klere langs sy vrou, Nolu.

Block, wat ook die Noord-Kaapse LUR vir finansies was, sit sedert November 2018 agter tralies nadat hy vir 15 jaar tronk toe gestuur is weens bedrog, korrupsie en geldwassery.

Nolu het die foto van hulle twee op 3 September op Facebook geplaas onder die opskrif: “Mr & Mrs John Block.”

Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê dat Block bloot verlof toegestaan is om die begrafnis van ’n familielid in Upington, waar hy aangehou word, by te woon.

“ Wanneer die gevangene buite die korrektiewe fasiliteit is, hoef hy nie die gevangenisuniform te dra nie.”

Hy het bygevoeg dat Block nog nie vir parool oorweeg word nie.

Daar is sedertdien verneem dat minstens twee amptenare van die gevangenisdiens in verband met die voorval geskors is. Geen verdere inligting is nog verskaf nie.

Antoinette Slabbert, Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.