Die gedenksteen vir Bles Bridges, buite Bloemhof, is gevandaliseer.

Foto: Verskaf

’n Gedenksteen vir die sanger Bles Bridges naby Bloemhof, waar hy in Maart 2000 verongeluk het, is gevandaliseer.

Bridges se dogter, Sunette, wat in Amerika woon, het Sondag (23/10) op Facebook oor die gedenksteen geskryf.

“Dis hoe my pa se gedenksteen net buite Bloemhof tans lyk. En dit ná al die werk wat die VF Plus gedoen het om dit daar mooi te maak,” lui haar inskrywing.

Volgens Albert Nel, VF Plus-raadslid in die Lekwa-Teemane-munisipaliteit, het die gedenksteen Donderdag nog gestaan.

“Toe ek die boodskap kry, het ek gaan kyk. Dit is duidelik iemand het dit afgestoot,” sê Nel.

Hy sê die omgewing waar die gedenksteen staan, is ’n plek waar motoriste gereeld stilhou en waar inwoners soms byeenkom.

“Omdat daar nie openbare plekke in die dorp is waar mense byeen kan kom om te ontspan of ’n vleisie te braai nie, sal hulle plekke wat mooi netjies is en waar daar ’n boom staan en waar die gras kort is, gebruik om saam te kom. Dit trek ook die verkeerde mense.”

Die party het vroeër vanjaar die gedenksteen vir Bridges, wat sowat ’n kilometer buite die dorp staan, skoongemaak.

Sunette het in haar Facebook-inskrywing gesê sy is nie seker waarom enigiemand die gedenksteen sou vandaliseer nie.

“Ek is nie heeltemal seker wat die arme siel probeer bereik het nie, want so mooi en kosbaar as wat daardie gedenksteen vir ons is, bly dit ’n gedenksteen en al het jy, wie jy ook al is, dit nou loop verwoes, sal jy nooit, in alle ewigheid, my pa se nalatenskap kan uitwis nie.
Sunette Bridges

“Hy leef in ons harte en sy musiek is steeds in ons ore en dit sal nooit verander nie,” lui die inskrywing.

Nel sê hy sal uitvind of die gedenksteen herstel kan word.

Bridges sou vanjaar 75 word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article