Met Swart Vrydag-winskopies wat reeds adverteer word, en spesiale aanbiedinge wat plek-plek vir die hele week beskikbaar is, is dit nodig dat die verbruiker van “wil hê”-emosie wegbly wanneer aankope gedoen word.
Loop lig om nie deur bemarkingsfoefies verlei te word nie.
“Indien jou skuld reeds buitensporig in vergelyking met jou maandelikse inkomste is, sal jy jouself net dieper in ’n skuldgat ingrawe indien jy nie met kalmte aan die Swart Vrydag of soortgelyke winskopie-geleenthede deelneem nie.
“Ek moedig Suid-Afrikaners aan om jul skuld-tot-inkomste-verhouding te bereken voordat julle geld uitgee waarvoor julle nié begroot het nie óf wat julle nie werklik het nie. Skuldbestuur is nou meer as ooit belangrik,” sê DebtSafe se woordvoerder en skuldadviseur, Carla Oberholzer.
Wat is ’n skuld-tot-inkomste-verhouding (STI)?
Dit vergelyk jou maandelikse inkomstebedrag (bruto – voor aftrekkings) met hoeveel skuld jy het (die totale bedrag van jou maandelikse skuldverpligtinge soos byvoorbeeld huur, huislening, kredietkaarte, voertuigfinansiering, winkelrekeninge of ander skuld).
Hoe bereken jy STI?
Tel al jou maandelikse skuld op.
Deel die bedrag met jou inkomstebedrag voor enige aftrekkings (bruto salarisbedrag) en vermenigvuldig dit met 100.
Die finale persentasie toon jou STI-verhouding.
Oberholzer raai aan dat die berekening voortdurend gemaak word ten einde ingeligte keuses te maak voordat jy jou geld (waarvoor jy so hard werk) bestee of wanneer jy krediet (die bank se geld) wil gebruik.
Wat die persentasie-kategorieë beteken; jou plan van aksie
‘n Lae skuld-tot-inkomste-verhouding toon ’n gunstige balans tussen jou skuld en inkomste. In teenstelling hiermee beklemtoon ’n hoë persentasie ’n meer riskante situasie weens die skuld wat jou bruto inkomstebedrag oorskry.
0-20%: Jou skuld, in vergelyking met jou inkomstebedrag, word as goed bestempel. Gaan voort om jou finansiële situasie te bestuur soos jy reeds doen. Indien jy aan winskopiegeleenthede deelneem, hou die volgende in gedagte:
•Doen jou navorsing deeglik en maak seker dat dit wat jy koop ? werklike winskopie is, dat jou begroting dit toelaat en dat die item nie as ‘n “wil hê” beskou word nie.
•As jy vooraf navorsing doen (rakende pryse en items), is dit nie nodig om verskeie winkels en sentrums te besoek nie. Moenie mislei word om méér te koop as wat jy kan bekostig nie. Koop slegs wat jy nodig het.
20-40%: Jou skuldbedrag weerspieël ‘n matige finansiële posisie. Oorweeg om klein begroting- of leefstylaanpassings te maak om jou algehele skuldbedrag te verlaag.
41-60%: Jy begin in ’n riskante gebied beweeg. Oorweeg dit om aansienlike aanpassings te maak om jou algehele maandelikse skuldbedrag te verlaag. Dit word nie aanbeveel dat jy aan enige komende uitverkoping-geleenthede of onbeplande inkopie-aangeleenthede deelneem nie.
60+%: Die persentasie is kommerwekkend en is ’n aanduiding van oorverskuldigheid. Jou beste manier van aksie is om ‘n gemagtigde professionele persoon of entiteit te vind om jou te help om terug te keer na ‘n plek waar jy weer finansiële vryheid kan geniet. Om aan enige winskopie-geleentheid deel te neem, word ten sterkste afgeraai.
Die bestuur van jou skuld is nie net onvermydelik nie, maar ook noodsaaklik. Deur jou skuld-tot-inkomste-balans of -verhouding te bepaal voordat jy enige bykomende skuld aangaan, neem jy ‘n belangrike stap in die rigting van ingeligte besluitneming en finansiële bemeestering.


