Douglas Mtukwane in die hooggeregshof in Kimberley op Dinsdag 8 November.

Foto: Charné Kemp

Douglas Mtukwane (42), eertydse departementele woordvoerder van onderwys, en vryskutjoernalis wat skuld op vier aanklagte van verkragting ontken, het Dinsdag 8 November in die getuiebank ‘n toespraak afgesteek oor sy struggle-credentials wat oor 30 jaar strek en aangevoer hy word “kwaadwillig vervolg”.

Adv. Adele van Heerden, aanklaer, het vroeër die staat se saak in die hooggeregshof in Kimberley gesluit in die verhoor waarin die klaagsters en ander reeds getuig het.

Mtukwane word verdink dat hy ‘n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield verkrag het. Hy moes die meisie skool toe vat. Op die dag van die voorval het sy eers saam met hom na sy woonstel gegaan. Hy het haar die sleutel gegee om die voordeur oop te sluit, waarna hy haar na bewering in die woonstel gedruk en met iets wat soos ‘n vuurwapen lyk, gedreig het. Na die beweerde verkragting het hy haar skool toe gebring waar sy ‘n onderwyser ingelig het.

In die ander voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ‘n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam te ry. Hy het haar na ‘n veld geneem en met iets wat soos ‘n vuurwapen lyk gedreig en na bewering verkrag.

In nog ‘n beweerde voorval van verkragting het hy op 15 Mei 2019 ‘n vriendin gevra om saam met hom na sy woonstel te gaan om sy skootrekenaar te kry. In die woonstel het hy haar glo verkrag. Sy was ontsteld en het toilet toe gegaan, waarna hy gedreig het om haar by die venster uit te gooi. Hy het haar na bewering ‘n tweede keer verkrag.

In sy hoofgetuienis wat deur adv. Renier Pieterse gelei is, voer Mtukwane aan hy was talle kere “geskok” oor die vroue se uitlokkende gedrag. Hy voer aan hy was “soos familie” vir die 14-jarige se gesin wat hy gereeld geldelik bygestaan en die kind skool toe gevat het. Op die betrokke dag was sy glo nie lus vir skool nie. Hulle is na sy woonstel, waar hulle het glo oor verhoudings gepraat en sy na bewering vertel het sy is nie ‘n meer ‘n maagd nie. Hy het daarna gaan bad, waarna sy, volgens hom en tot sy “skok” in die badkamer gekom het. Hulle het seks op die bed gehad, waarna hy vir haar kos by ‘n supermark gekoop en skool toe gevat het.

Tydens die tweede voorval het hy ‘n vrou op straat sien loop. “Ek moet erken dat ek van vroue hou,” het hy getuig. Hy het sy motor omgedraai en met die vrou begin skerts. Hulle het glo gou ooreengekom dat hy vir haar kookolie sou koop indien sy intiem met hom sou wees. Sy was glo haastig en het voorgestel dat hulle sommer in die motor in die veld “doen wat ons moet doen.” Hy het sy eie bottel kookolie wat in die bagasiebak was en R30 of R40 vir haar gegee.

Hy ken die klaagster in die derde voorval reeds van skooldae. Sy is in opleiding om ‘n tradisionele geneser te wees. Hy was destyds uit op borgtog op die ander aanklagte teen hom. Hy het die klaagster en die geneser gaan spreek.

“Volgens die voorvaders is die aanklagte teen my vals.”

Die genesers het hom kruie gegee maar dit het hom van sy ereksie ontneem, tesame met sy medikasie vir epilepsie, slapeloosheid en depressie. Hy het ook daaroor op sosiale media met die klaagster gepraat. Op die dag van die voorval het hulle by haar ouerhuis gesels. Later het verhoudings ter sprake gekom, en sy het haar lyf teen hom aangedruk. Hulle is per huurmotor na sy woonstel, waar sy krities was oor sy vuil en beknopte woonstel.

“Sy het seker ‘n mansion verwag,” het hy getuig. Sy wou gemeenskap op die bank hê, maar hy op die bed. Dit is toe dat sy ereksie-probleme weer ter sprake kom.

Die verhoor voor waarnemende regter Sharon Erasmus duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article