Die hooggeregshof het op Donderdag 19 Oktober in Kimberley gehoor hoe ’n man wat onder meer van moord, verkragting en bedrog aangekla word, jong skoolmeisies op die sosiale media om die bos gelei het om naakfoto’s van hulself te deel waarmee hy hulle dan na bewering afgedreig het.
Die afdreiger wat voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ’n man van 22, voer die staat aan.
Die beskuldigde, Itumeleng Machabe Bendow (25), staan tereg op 19 aanklagte wat ook poging tot moord, die toon van pornografie aan minderjariges, crimen injuria en poging tot afdreiging insluit. Hy ontken al die aanklagte teen hom en voer aan van die meisies het toestemming tot seks gegee.
Hy is aangekeer ná die verkragting en moord op Relebohile Segami (11) in Maart 2022. Die gemeenskap was geskok ná die ontdekking van haar lyk in die veld agter die Noord-Kaapse wetgewergebou, waarna hulle protesoptogte by hof gehou het waar hy van haar moord aangekla is.
Die eerste getuie, sers. Gweneth Paulsen van die elektroniese misdaadondersoekeenheid in Kimberley, het saam met die eenheid vir gesinsgeweld en kubermisdaad gewerk.
Die ondersoek het in Mei 2020 begin toe die ma van ’n meisie Paulsen genader het omdat haar dogter selfmoord wou pleeg weens die beweerde afdreiging. Hulle het vertel dat die meisie deur ene Prudence Femme Ivy op Facebook bevriend is.
Prudence Femme Ivy het in hul Facebook Messenger-gesprek beweer sy is ’n gay skoolmeisie en foto’s van haarself aan die slagoffer gestuur. Dit sou later blyk sy het ander slagoffers se foto’s gebruik om haar ware identiteit te verdoesel.
Later, in WhatsApp-gesprekke, het Prudence Femme Ivy die slagoffer oortuig om foto’s van haarself in gewone en skoolklere, haar ontblote borste, asook naakfoto’s te stuur. Die meisie was huiwerig, maar Prudence Femme Ivy het haar op “my oupa se graf” beloof sy sou dit nie versprei nie. Dit was toe dat die afdreiging begin.
Indien die meisie nie met Prudence Femme Ivy se “neef” uitgaan en ’n video aanstuur waarin sy ’n potlood in haar anus druk nie, sou Prudence Femme Ivy die foto’s na haar skool en op ander sosialemediaplatforms versprei en “laat trend”.
Die meisie het etlike kere by Ivy gepleit om nie die foto’s te publiseer en versprei nie. As waarskuwing het Prudence Femme Ivy soortgelyke foto’s van ander meisies gestuur wie se foto’s ook op die sosiale media versprei is. Die slagoffer het na die Facebook profielfoto van die “neef”, ene “Κša Angêl Anaêl” gekyk en gesê hy is te oud vir haar, wat geen indruk op Prudence Femme Ivy gemaak het nie.
Paulsen het die man op die foto, die “neef”, as die beskuldigde geïdentifiseer.
Die meisie het ingestem om die neef te bevriend en die video te maak, maar laat blyk sy wou selfmoord pleeg.
Sy het alles teenoor haar ma gebieg. Die volgende dag het die ma ’n stemboodskap aan Prudence Femme Ivy gestuur waarna Prudence Femme Ivy diep verskoning gemaak en onderneem het om die foto’s uit te wis. Die ma het aan Prudence Femme Ivy gesê sy mors met die verkeerde familie. Prudence Femme Ivy het geantwoord sy moet haar dogter leer om nie naakfoto’s aan vreemdelinge op die sosiale media te stuur nie.
“Dit is gevaarlik.”
In dié stadium het die ma ’n ander meisie van die afdreiging verdink, die meisie wie se foto’s deur Prudence Femme Ivy misbruik is. Na bewering is die betrokke meisie en ander op dieselfde wyse mislei.
Hulle het ook klagte ingedien.
Adv. Adele van Heerden kla aan en adv. Sakkie Nel tree namens die beskuldigde op. Die saak voor regter Cecile Williams duur voort.


