’n Vermeende verkragter wat al maande wag om vir forensiese waarneming in die Kimberley- psigiatriese hospitaal opgeneem te word, het op Woensdag 7 Augustus in die hooggeregshof in Kimberley gehoor dat daar teen volgende week dalk ’n bed vir hom beskikbaar sal wees.
Die waglys vir beskuldigdes wat by die hospitaal waargeneem moet word, is lank weens ’n gebrek aan personeel.
Douglas Mthukwane (42), eertydse departementele woordvoerder van onderwys, en vryskutjoernalis – wat skuld op vier aanklagte van verkragting ontken – is steeds onder kruisverhoor, wat gestaak is sodat hy waargeneem kan word.
Die staat het reeds sy saak gesluit.
Adv. Catherina Jansen, aanklaer, sê ’n konferensie word vandeesweek gehou oor die beskikbare beddens en dat Mthukwane teen volgende week sal weet of hy opgeneem kan word.
Hy word verdink dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield verkrag het. Hy moes die meisie skool toe vat, maar het haar glo eers na sy woonstel geneem. Hy het haar glo gedreig met iets wat soos ’n vuurwapen lyk. Ná die beweerde verkragting het hy haar skool toe geneem, waar sy ’n onderwyser ingelig het.
ln die ander voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ’n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam te ry. Hy het haar na ’n veld geneem en met iets wat soos ’n vuurwapen lyk gedreig en na bewering verkrag.
ln nog ’n beweerde voorval het hy op 15 Mei 2019 ’n vriendin gevra om saam met hom na sy woonstel te gaan om sy skootrekenaar te kry, waar hy haar glo twee keer verkrag het.
Renier Pieterse tree namens Mthukwane op.
Regter Almé Stanton het die verhoor tot 14 Augustus uitgestel.


