Douglas Mthukwane Dinsdag 2 Desember in die hooggeregshof. Foto: Charné Kemp
Douglas Mthukwane Dinsdag 2 Desember in die hooggeregshof. FOTO: Charné Kemp

Die regsverteenwoordiger van ‘n vermeende verkragter is Dinsdag 2 Desember in die hooggeregshof in Kimberley in sy slotbetoë met vrae gepeper oor wat die motiewe agter die beweerde komplot sou wees om die beskuldigde van verkragting aan te kla.

Douglas Mthukwane (45), op sy dag ‘n departementele woordvoerder en joernalis, ontken skuld op vier aanklagte van verkragting vanaf 2016 tot 2019 in Kimberley.

Die staat het Maandag in sy slotbetoë aangevoer Mthukwane het “diepgaande grootheidswaan en spoggerigheid” in sy eie hoofgetuienis, kruisondervraging, asook kruisondervraging van getuies getoon.

As getuie het hy volgens die aanklaer haar vrae ontduik, of in lang onsinnige vertellings verval wat niks met die aanklagte verband hou nie, of onnodige besware geopper. Die hof moes hom verskeie kere maan om vrae te beantwoord. Dis vir adv. Adele van Heerden, aanklaer, veelseggend dat Mthukwane wat in die verhoor aangevoer het die seksdade is met toestemming gepleeg, aanvanklik die dade ontken het. In al die gevalle het hy beweer die vroue het die dade geïnisieer.

‘Vele motiewe vir valse beskuldigings’

Volgens adv. Kenneth Kgatwe wat vir Mthukwane optree, is daar vele motiewe vir die polisie en die klaers om hom valslik van verkragting te beskuldig. Die klaers is almal enkelgetuies, en hy vind die ander getuies se stawende weergawes en motiewe verdag. Van die getuienis is teenstrydig. Die polisie, wat nalatig was deur nie dadelik ‘n deursoekingslasbrief te verkry nie, het geen vuurwapen in sy woonstel gevind nie.

LEES OOK: Vermeende verkragter toon ‘diepgaande ‘grootheidswaan en spoggerigheid’

In sy slotbetoë het Kgatwe aangevoer die meisie wat minderjarig was ten tyde van die voorval, het aan die beskuldigde gesê sy is 16.  Sy was ook reeds seksueel ervare. Mthukwane het die familie wat “armlastig” was bygestaan en aangebied om die meisie skool toe te bring. Omdat sy honger was, is hulle eers by sy woonstel aan om kos te kry. Daar het die meisie hom verlei. As hy dan ‘n seksuele roofdier is, hoekom het hy nie ook die meisie se suster verkrag wat sy wasgoed vir hom gedoen het nie, het Kgatwe dit aan waarnemende regter Sharon Erasmus gestel.

Volgens Kgatwe het die tweede slagoffer nie ernstige beserings gehad nie, want sy was die een wat die daad geïnisieer het. Sy het die klagte teen hom ingedien omdat hy haar net R30 vir seks betaal het, en nie R50 nie.

Die derde slagoffer wat glo twee keer verkrag is, was ‘n vriendin van hom. Haar beweerde motief vir die “vals” klagte is dat sy kwaad was dat Mthukwane, wat lid is van ‘n Christelike kerkgroep is, nie as ‘n geneser opleiding wou hê nie.  Mthukwane voer aan die twee kere wat hulle seks gehad het, is een daad.

‘Sameswering is onmoontlik’

Die staat het in sy betoë aangevoer ‘n samewering teen Mthukwane is onmoontlik, want die klaers ken mekaar nie, die voorvalle het oor jare gebeur en die sake is deur verskillende ondersoekbeamptes ondersoek.

Die regter het Kgatwe oor die motiewe vir die beweerde sameswering uitgevra, waarop Kgatwe geantwoord het daar is net een bevelvoerder by die polisie-eenheid wat gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) ondersoek, hoewel hy nie weet wie die betrokke bevelvoerder is nie. Dié eenheid moes volgens hom nie die saak ondersoek het nie. Mthukwane meen die sameswering teen hom is omdat hy as ondersoekende joernalis dié eenheid vir korrupsie ondersoek het.

Boonop is mense jaloers op Mthukwane wat ‘n “bekende in politieke kringe” is. Hy is “iemand met baie vyande” het Khatwe aangevoer.

Al drie klaers met vuurwapen afgedreig

Hy word verdink dat hy ‘n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield in ‘n gewelddadige voorval verkrag het. Die ontstelde meisie het die voorval dadelik by haar skoolhoof aangemeld, en haar beserings is deur mediese getuienis bevestig.

ln nog ‘n voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ‘n vrou langs die pad in Greenpoint aanwysings gevra. Die vrou het ingestem om saam in sy motor te ry na die straat wat hy soek. Hy het haar egter na ‘n veld geneem, en na bewering gedreig en verkrag. Sy het die misdaad by haar ma en die polisie aangemeld en het onthou wat Mthukwane se motorregistrasienommer was, hoewel sy twee nommers omgeruil het. Ses maande later het sy Mthukwane toevallig by die polisiekantoor gesien toe sy gaan verneem het hoe die ondersoek vorder.

Op 15 Mei 2019 het hy glo ‘n vriendin, wat ‘n tradisionele geneser is,  oortuig om saam met hom na sy woonstel te gaan, waar hy haar glo twee keer verkrag het. Sy het luidens mediese getuienis beserings aan haar privaatdele gehad.

In al drie gevalle is die klaers glo met die gebruik van ‘n vuurwapen afgedreig.

  • Mthukwane het sy eie aanvullende betooghoofde opgestel, wat Woensdag in die rekord ingelees sal word.

LEES OOK: Moordenaar-verkragter appelleer teen skuldigbevinding en vonnis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article