‘n Vermeende rower is Saterdagoggend (09/10) in wat vermoedelik ’n gewapende rooftog by ’n juwelierswinkel by die Monumenthoogte-winkelsentrum in Kimberley was, dood.
Sy vermeende makkers het volgens die polisie en omstanders weggekom. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak en het ‘n spesiale aktiveringsplan van 72 uur in werking gestel om die verdagtes aan te keer.
Die voorval het volgens Damian Aspeling, winkelbestuurder van die Oasis-waterwinkel, in die ME-juwelierswinkel langs sy winkel gebeur.
“Ons het eers ’n geskreeu gehoor en toe iets wat soos ’n struweling geklink het. Ons het uitgehardloop; saam met sommige personeellede van die juwelierswinkel en ander omstanders. ‘n Skoot het ondertussen afgegaan. Ons het om die hoek na die agterkant van die sentrum gehardloop. Een van die mans, vermoedelik ’n rower, het inmekaar gesak. Die ander mans het weggehardloop.”
Die gewonde man wat op sy rug gelê het, is op die plaveisel by die agterste ingang van die sentrum deur nooddienstepersoneel en polisielede ten aanskoue van toeskouers behandel. Teen 11:00 kon die nooddienstepersoneel skynbaar niks meer vir hom doen nie en het hulle die man met ’n noodkombers toegegooi. Van die polisielede het toe in die juwelierswinkel verdwyn.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek ‘n saak van poging tot sakeroof en moord ná die gewapende rooftog.
“Die voorval het omstreeks 10:15 plaasgevind. Na bewering het vier mans die winkel ingekom en hulself eers as klante voorgedoen en toe geld en juweliersware van die personeel geëis. ‘n Struweling het ontstaan en ‘n skoot het afgegaan, waarna een van die mans gewond is. Hy het buite die winkel inmekaargesak. Hy is op die toneel dood verklaar.
“Ons het ‘n spesiale aktiveringsplan wat 72 uur van stapel gestuur om die ander verdagtes aan te keer. Enigeen met inligting kan sers. Modise Moshotloa by 082-302-0407 bel of die polisie via die MYSAPS-app kontak. Die inligting sal vertroulik hanteer word,” sê sy.