Die Nigeriese beskuldigde in die saak waarin twee vroue met ’n aanlynafspraak-app uit miljoene rande bedrieg is, gaan Donderdag 9 Februarie weer om borgtog aansoek doen.
Een van die slagoffers is in die Noord-Kaap, en die ander in die Wes-Kaap, waar hy in afsonderlike sake op soortgelyke aanklagte tereg staan.
Dit kom nadat Pius Emokpe (49) se vier medebeskuldigdes, almal Suid-Afrikaners, verlede Donderdag borgtog gekry het in die landdroshof in Kimberley. Adv. Lentswe Setouto, aanklaer, het nie die borgtogaansoeke teengestaan nie.
Emokpe is sedert Mei 2022 in aanhouding nadat hy in Kaapstad deur die Valke arresteer is. Hy het sy vorige borgtogaansoek laat vaar, maar gaan op 9 Februarie weer aansoek doen, het adv. Jesse Clarke, sy regsverteenwoordiger aan landdros J. du Toit gesê.
Intussen het die Nasionale Vervolgingsgesag se beslagleggingseenheid op sy en sy vrou se kontant, eiendomme en motors beslag gelê.
Sy medebeskuldigdes is op 25 Januarie 2023 in Kaapstad hegtenis geneem. Lulama Dilimeni (33) en Shafwaan Fakier (47) is borgtog van onderskeidelik R25 000 en R100 000 en Nomcebo Sibise (40) en Juany Michaels (24) borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Fiona Bok is Dilimeni, Sibise en Michaels se regsverteenwoordiger terwyl Clarke ook vir Fakier verteenwoordig.
Sibise is werkloos. Terwyl sy haar drie maande oue baba in die hof gesus het, het die aanklaer aangevoer dat sy op ’n tydstip R200 000 in haar bankrekening ontvang het. Fakier werk by ’n eiendomsmaatskappy as ’n opsigter, Dilimeni is ’nskoonmaker en Michaels ’n kelnerin by ’n wynlandgoed.
Die vier beskuldigdes wat op borgtog vrygelaat is, gaan almal skuld ontken. Hulle beweer hulle ken nie die klaer en getuies nie, en sal daarom nie met hulle inmeng nie. Hulle het ingestem om elke Maandag en Vrydag by hul naaste polisiekantoor aan te meld en nie die Wes-Kaap te verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.
Hulle is in hegtenis geneem nadat hul bankrekeninge na bewering gebruik is om geld te was. Emokpe het glo met sy medebeskuldigdes saamgewerk om die slagoffers, wat meer as R4 miljoen verloor het, te bedrieg.
In Desember is Emokpe en sy vrou, Piliswa Emokpe se motors en eiendomme asook meer as R1,3 miljoen in kontant verbeurd aan die staat verklaar. Die ondersoekers het aangevoer dat Emokpe en sy vrou nie bewys kon lewer van ’n wettige inkomste waarmee die eiendomme en motors gekoop is nie. Die oorsprong van die kontant kon ook nie verklaar word nie.
Die bewering is dat Emokpe homself as iemand anders voorgedoen het en sy slagoffers vir geld gevra het, wat hy na bewering met rente sou terugbetaal.Die eiendom sal ter wille van die slagoffers verkoop word.
Die besittings ter sprake is R1,3 miljoen in kontant, twee erwe in die Strand in die Wes-Kaap, asook voertuie: ’n Hyundai Accent, Hyundai Atos, Renault Duster, en ’n Toyota Rush.





