Verlede kry gou gestalte

Van 18 tot 20 Maart kan mense uitsien na tradisionele kos en feestelikhede by In die Laer by die 8 Myl-venue buite Kimberley.


Die sweep gaan van 18 tot 20 Maart langs die ossewaens klap en agterosse kan hulle regmaak vir tradisionele kos en feestelikhede tydens die tweede In die Laer-uitstalling by die 8 Myl-venue buite Kimberley.

Marius Nagel, organiseerder, sê uitstallers bring vanjaar osse saam om ossewaens te trek.

“Mense sal sien hoe osse ingespan word, en sal dan op die ossewa kan ry. Die osmeester roep elke os op sy naam en span elkeen op sy presiese plek in. Daar is net ses osmeesters in Suid-Afrika.”

Jaco Janse van Rensburg, ’n osmeester van Kemptonpark, sê sy osse is sy eerste liefde.

“Ons hanteer hulle met die grootste agting en liefde. Jy roep hom op sy naam, en die beweging van sy ore en sy liggaamshouding sê hy weet jy raas met hom. Die sweep klap net bokant hom as hy halsstarrig bly.”

Trekosse het tradisionele name.

“Dit het te make met Jan, berge of dale, Afrikaner-leiers of die kleur van sy vel. Name soos Swartberg, Smuts of Rooijan.”

Voorosse is vinniger, jonger osse wat die pas aangee. Agterosse is sterk om die disselboom te dra. Hulle is ook makker.

“Die osse ken my stem en liggaamshouding – hulle sal nie sommer luister vir ’n vreemde touleier of die een wat die sweep hanteer nie. Dit neem so drie jaar om hulle van ’n jaar oue dier af te rig,” sê Janse van Rensburg.

Die Rapportryerbeweging, Die Voortrekkers, AfriForum en Landsdiens – organisasies wat hulle vir die bewaring en bevordering van die Afrikaner-kultuurerfenis beywer – is by die uitstalling betrokke.

“Geskiedenis en kulturele erfenis is besig om verlore te raak vir die jonger geslag,” sê Nagel.

“Die bewaring van kultuur­gebruike en geskiedkundige gedenk­waardig­hede is van kritieke belang vir die voortbestaan van ons erfenis.

Die doel is ook om geld vir die bewaring en instandhouding van monumente by Magersfontein, Paardeberg, Modderrivier en Kimberley in te samel.
Marius Nagel

Die feestelikhede begin op die Vrydag, en feesgangers kan na musiek en stories uit die ossewa-dae uitsien. Tradisionele geregte sal by kosstalletjies te koop aangebied word.

Op 19 Maart word ’n Voortrekker-ete, wat op waens voorberei is, bedien. Kerrie-afval, bobotie, lewerkoekies, wildspastei, pampoenpoffers, gestoofde perskes en koringslaai tel onder die 20 geregte waaraan feesgangers sal kan smul, met melktert en koeksisters as nagereg. Vars­gebakte brood met tuis­gemaakte konfyt en lewerpatee, kaiings en gemmerbier is ook op die spyskaart.

Besoekers sal kan leer hoe om brood te bak, botter te karring, melktert op die vuur te maak, lopers te giet, voorlaaiergewere te laai en skoene en kerse te maak.

Ossewaritte kan onderneem word, en ossewaens met al die toebehore en gereedskap word uitgestal. Kinders kan ook na tradisionele speletjies uitsien.

Die gebeurtenis word op die Sondag met ’n erediens afgesluit.

  • Kaartjies vir die ete kos R150 per volwassene en R80 vir kinders jonger as tien. Dié kaartjie sluit vir die Saterdag gratis toegang tot die terrein in. Toegang tot die terrein vir Vrydag en Saterdag is R50 per volwassene en R20 per kind. Sondag se toegang is gratis. Belangstellendes kan indielaer.­co.za besoek of Nagel by 083-778-9179 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.