Kiesers staan in ‘n ry in Galeshewe.

Foto: Charné Kemp

Noord-Kaapse opposisiepartye het die ANC beskuldig dat hy staatshulpbronne in sy verkiesingsveldtog ten koste van opposisiepartye misbruik het, en is verheug dat die ANC sy algehele meerderheid verloor het.

Die ANC het 49,34% stemme in die Noord-Kaap ontvang, met 15 setels.

Die DA het 21,19% stemme ontvang, met sewe setels.

Die EFF het 13,25% stemme ontvang, en vier setels.

Die PA het 8,64% stemme ontvang, en drie setels.

Die VF Plus het 1,83% verwerf, wat tot een setel van die beskikbare 30 lei.

Harold McGluwa, DA-voorsitter, sê die “misbruik van staatshulpbronne” het die ANC bevoordeel. Shadrack Tlhaole, provinsiale EFF-leier, sê as dit nie vir die “misbruik van kamtige diensleweringsprogramme in die ANC se verkiesingsveldtog” was nie, sou die ANC dalk so min soos 38% van die stemme gekry het.

Deshi Ngxanga, ANC- provinsiale voorsitter, verwerp dié beskuldigings en sê opposisiepartye sit die pot mis as hulle dink die werk van die regering moet ophou wanneer ’n verkiesing op hande is.

McGluwa sê hy is teleurgesteld met sy party se stempersentasie, maar baie tevrede dat die ANC onder 50% behaal het, wat die DA se oogmerk was.

Die ANC is erg onthuts en gaan nie meer regeer ‘tot Jesus kom’ nie. Hulle moet nou met ander partye saamwerk. Die politieke speelveld het verander. Swak dienslewering moet verbeter en korrupsie beveg word, want dis wat burgers verlang.
Harold McGluwa

“Die DA het ’n baie goeie verkiesingsveldtog gehad. Van ons ondersteuners was ongelukkig nie geregistreerde kiesers nie.”

Hy meen daar is verskeie oorwegings vir die provinsie om in ’n moontlike koalisie regeer te word, maar dat dié besluite op die DA se nasionale en federale vlak geneem word.

Verkiesing

Harold McGluwa, DA-voorsitter, en dr. Isak Fritz, DA-premierskandidaat.

“Elke provinsie het sy eiesoortige probleme, en dit kan die aard van die koalisie bepaal.”

Die opposisiepartye kan die ANC ook toelaat om ’n minderheids­regering te wees en ’n oorsigrol oor die ANC uitoefen, wat hulle op die agtervoet sal hou.

Tlhaole is tevrede met hul uitslag, wat groei in ondersteuning toon.

Verkiesing

Shadrack Tlhaole, provinsiale EFF-leier.

“Ons wil slaggate regmaak, wateronderbrekings verminder en werk skep.”

Hy wou hom nie oor moontlike koalisieooreenkomste met die ANC uitlaat nie.

“Ons het voorsien dat hulle onder 50% sou kry en glo dit is die begin van die ANC se einde.”

Hy het verwys na die ANC se verkiesingsveldtog en “kamtige diensleweringsprogramme”.

Sommige mense het dit geglo, maar kospakkies en werks­geleenthede by die uitgebreide openbare werkprogram is slegs tydelik. Die misbruik was disrespekvol teenoor burgers.
Shadrack Tlhaole

Renate Benjamin, PA- provinsiale voorsitter, is baie tevrede met hul uitslag.

Sy wou nie reguit sê of ’n koalisie met die ANC oorweeg word nie.

“Ons beywer ons dat godsdiens as vak in skole teruggebring word.

“Ons sal verseker dat verantwoording in die regering terugkeer, en dat tugstappe teen staatsamptenare gedoen word wat oneties optree.”

Verkiesing

Renate Benjamin, PA-provinsiale voorsitter

Theo Joubert, die VF Plus se wetgewerskandidaat, sê hulle sou beter in die verkiesing wou vaar.

“Ons sal ons strategie in die provinsie heroorweeg. Ek het verwag die ANC se aanhang gaan daal, maar nie so baie nie. Die ANC is in ’n moeilike posisie, en sal daarom meer toegeeflik in die wetgewer wees.

“Die konflik tussen die PA en die DA is ’n struikelblok, asook tussen die ANC en EFF.”

Verkiesing

Theo Joubert, wetgewerskandidaat van die VF Plus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article