Die moontlikhede wat die langste erfenisroete in Suid-Afrika kan ontsluit is net so wyd soos die horisonne waarlangs die Vergete Grootpad-roete vir ongeveer 1 000 km vanaf Ceres in die suide tot Kuruman in die noorde strek.
Oor dié roete se korter bekendstellings-ekspedisie wat langsaam oor 14 dae en op grondpaaie teen die loop- en drafpas van ’n sesperdewa plaasgevind het, vra Piet Coetzer: “Hoe verstaan jy ’n 640 km-pad deur die Karoo wat heeltemal te kort is?”
Dié ekspedisie het Sondag 6 November in Griekwastad in die Noord-Kaap ten einde geloop.
Teen die tyd dat kerkgangers uit die kerk gekom het, het Coetzer se wa met ses perde van die Vreugde Vlaamperd-stoetery, vergesel deur die 1933 Chevrolet Eagle Roadster van Kobie Herselman met sy perde onder die skitterblink enjinkap, reeds die dorpenaars se aandag getrek.
Op die roete vanaf die NG kerk na die ouetehuis, waar bejaardes met Minister, Kimon, Tom, Karnet, Kristal en Klara in die tuig kon kennis maak, deur die woonbuurt, terug in die hoofstraat en tot by die skouterrein, het dorpenaars in voertuie, kinders op fietse en ander te voet die wa gevolg.
Die einde van die ekspedisie in Griekwastad is ’n toonbeeld van hoe dit op die hele rit gegaan het, “want,” sê Coetzer, “as ek een iets oor die gasvryheid kan sê wat ons beleef het, moet ek sê dit was oordonderend; amper te veel.”
Nie die eerste, ook nie die laaste
Coetzer, van Senekal, en sy span het verlede jaar op eie stoom en inisiatief ’n deel van die Vergete Grootpad – ongeveer 700 km vanaf Hopetown tot in Ceres – met dieselfde wa en ses perde van die stoetery aangepak.
Hulle het toe sover moontlik die perdekoetsroete wat tydens die Diamantstormloop van en na Kimberley in die 1870’s deur die Gibson-broers van die Red Star Line gebruik is, gevolg.
Coetzer het al voorheen met die einste wa en perde na ander dorpe gereis, en volgens hom is hy steeds nie klaar nie. Hy wil graag in 2023 ‘n roete wat oor 1 000 km strek, aanpak.
Dit was juis die 2021-ekspedisie wat die aandag van prof. Doreen Atkinson van die Karoo Ontwikkelingstigting (of Karoo Development Foundation, die KDF) getrek het.
Atkinson, ’n KDF-trustee en by verskeie studies betrokke, stel veral in kleindorpse ontwikkeling, geskiedenis, toerisme en argitektuur van die Karoo belang.
“Dit was vir ons by KDF verstommend dat Piet en sy ekspedisie soveel prominensie geniet het,” sê Atkinson. Hul ekspedisie is deur ’n groot aantal mense van oor die wêreld heen op Facebook en ’n WhatsApp-groep gevolg.
Atkinson vertel KDF werk baie hard agter die skerms, en wat Coetzer en sy ekspedisie reggekry het, is onbeskryflik.
Atkinson het met Coetzer kontak gemaak, planne is gesmee en vanjaar het KDF die befondsing van die ekspedisie gedoen.
Kennismakings, toe en nou
Die Vergete Grootpad was die eerste roete wat die Kaapland in die suide met die binneland in die noorde verbind het. Dit word as die langste erfenisroete in Suid-Afrika beskryf en strek oor ongeveer 1 000 km vanaf Tulbagh en Ceres in die suide tot by Kuruman in die noorde, met talle vertakkings.
Dit volg die tweerigting-verkeer van antieke reisigers en is deur die !Xam, KhoeKhoe, Tswana, sendelinge en ontdekkers gebruik om tot in Sentraal-Afrika te reis.
’n Tydperk van so vroeg as die laat 1700’s – voor die Groot Trek – is ter sprake.
Dele daarvan oorvleuel met voetpaaie wat die !Xam en ander jagter-versamelaarsgroepe gebruik het, asook die KhoeKhoe-herders met hul skape en beeste, Tswana-boere en latere Xhosa-groepe wat die Karoo in die laat-agtiende eeu betree het.
Vanaf die laat 1700’s is die pioniers, jagters, voortvlugtiges, handelaars, ontdekkers soos William Burchell, ivoorjagters en sendelinge wat drupsgewys gereis het, deur ’n sterk stroom trekboere gevolg.
Die San, Korana, Xhosa (by Prieska en Carnarvon), die Griekwa by Griekwastad en die Thlaping by Kuruman, het dié inkommers op verskeie maniere ontmoet.
Hierdie kennismakings het gewissel van handel, selfbeskikking, militêre vertoon, konflik tot geestelike kompetisie, en met die kennismaking is daar dikwels uit ’n gemaksone beweeg om mense van ’n ander kulturele agtergrond te ontmoet.
Tydens die pas afgelope ekspedisie het Atkinson van die dorpe waardeur die roete strek, asook omliggende dorpe soos Williston, Victoria-Wes en Vosburg besoek. By van die dorpe is werkswinkels oor die agtergrond, aard en potensiaal van die Erfenisroete aangebied.
Deurentyd is meer bewyse oor waar die roete se sypaaie gestrek het, ingewin.
“Ons samel al meer inligting in; kry brokkies, foto’s, murasies. Daar is nog soveel kennis wat verpak moet word.”
Atkinson sê die geesdrif en belangstelling by die dorpe was wonderlik.
Die Erfenisroete is ideaal vir toerisme-besighede, onderwysers, kerkleiers, gemeenskapsleiers, navorsers, munisipale raadslede en amptenare, sê sy en noem dat die konsep nog ten minste vyf jaar gaan neem om ten volle te ontwikkel.
“Elkeen het iets wat hy kan beklemtoon, en sodra jy goed aanmekaar heg, byvoorbeeld sendelinggeskiedenis, het jy meteens ’n subtema.”
Buiten om ’n historiese bewustheid te skep, kan reisigers op die roete unieke besienswaardighede, aktiwiteite en belewenisse in elke distrik ontdek.
Atkinson is van mening dat daar nie kompetisie in hierdie konsep is nie en dat dit eerder oor samewerking gaan.
Soos in die era van die Vergete Grootpad, is ons almal in die hedendaagse Suid-Afrika uit ons gemaksone, en is ons die heeltyd besig met kennismakings, sê sy.
“Ons het baie in hierdie land om voor dankbaar te wees. Die Waarheid- en Versoeningskommissie, die Zondo-kommissie, die plundery in KwaZulu-Natal wat deur gewone mense gestop is…
“Selfs die regering wat ons telkens faal, leer ons om vir onsself te dink.
Karoo bekoor
Adri Smit, ’n direkteur en stigter van Ons Karoo en Kontrei, het die ekspedisie in haar eie voertuig meegemaak.
Ons Karoo en Kontrei word as ’n “een-stop aanlyngids om die Karoo en die omliggende platteland te verken”, beskryf.
Smit en Atkinson het al voorheen saam aan verskeie projekte en konsepte gewerk.
“Die dinamika van die ekspedisiegroep, ongeag uiteenlopende persoonlikhede, was ongelooflik. Ons kon mekaar lees; het mekaar genoeg ruimte gegee; en het baie goed saamgewerk.
“Die voertuie wat saamgery het wat so goed ingerig was, het baie dinge vergemaklik,” vertel sy.
Smit het onder meer tydens die ekspedisie voelers uitgesteek om die aanlyngids uit te brei en aan te vul.
Waldo en Ansie Bosse van Newcastle in KwaZulu-Natal het die hele pad in hul eie voertuig saamgery.
Bosse, ’n boer, uithouritruiter en perdeman, vertel dat hy op ’n perdegroep van die ekspedisie gehoor het. Hy het logistieke hulp aangebied en sy voertuig het die wa met onder meer perdevoer gesleep.
Hy en sy vrou het die Karoo as ’n baie spesiale plek, met sy skoonheid, uitgestrekte ruimtes en gasvryheid beleef.
Bosse is vol lof vir Smit wat interessante uitstappies en besoeke tydens die ekspedisie gereël het en sê dat dit soveel meer waarde tot die hele belewenis bygevoeg het.
Verskeie ander individue en groepe het ook vir ’n rukkie of vir ’n paar dae die ekspedisie vergesel.
‘Donker wolke vol beloftes’
“Die straat word toegemaak, want die perde en die waens staan die straat vol,” word op die webwerf vreugdepaaie.co.za geskryf oor die amptelike begin van die ekspedisie op Saterdagoggend 22 Oktober voor die N.P. van Wyk Louw-museum in Sutherland.
Vroeër die oggend het meer as 30 mense die ekspedisie vanaf Rogge Cloof, waar oornag is, afgesien. Op pad na Sutherland het nog ruiters en waens by die konvooi aangesluit.
In Sutherland het Die Stoftrappers ’n vertoning gegee, roosterkoek is geëet en die Sutherland on Foot-toer gedoen.
So het die ekspedisie begin waar daar elke dag vroeg opgestaan en vroeg vertrek is, om teen laatoggend ontbyt langs die pad te maak.
Inskrywings op die webwerf en die Facebook-blad Ons Karoo en Kontrei, asook kwinkslae op die WhatsApp-groep weerspieël die atmosfeer wat geheers het:
“Ons het lekker reën in die nag gehad wat die pad bedags sag en lekker maak.”
“… onder donker wolke vol beloftes deurgery.”
“Baie tyd vir gesels en vir stil wees.”
“Ek moes snaaks kry vir oom Piet vanoggend. Die ou dryf nie net perde nie, maar mense ook. Hy sê: ‘Dit help nie jy staan vyfuur op en jy skrik eers negeuur wakker nie’.”
’n Verdere uittreksel uit inskrywings en gebeure is soos volg:
Maandag 24 Oktober: ’n Erewag van kinders wag die ekspedisie by Fraserburg in. Marinda Oberholzer van Karoo Fossil Tours bied ’n toer aan waar “klippe gelees” word.
Woensdag 26 Oktober: By Loxton het die “wind het so bietjie woes gewaai”, maar Delta die skaaphond en Esté Matthew van die Endangered Wildlife Trust se werksmetodes kon steeds waargeneem word. Matthew monitor onder meer die beweging van die skaars oewerkonyne en bepaal “hoeveel van hulle daar rondhop”.
Delta se skerp reuksintuig maak hom ’n goeie snuffelhond, en hy ruik die mis van die konyne uit wat vir DNS-monsters versamel word. Die oewerkonyn is die eerste keer in 1901 in die Victoria-Wes en Loxton-gebied waargeneem, en so onlangs as 2018 vir die eerste keer by Uniondale aangemeld.
Donderdag 27 Oktober: Ook in die Loxton-omgewing word die “mooiste skaapskeerstoor in die distrik” besoek. Die groep neem ook die dragtigheidskandering van ooie waar.
Vrydag 28 Oktober: By Pampoenpoort buite Carnarvon word die melk van bokke waargeneem. Van die bokmelk word “heerlike bokbotter” gemaak.
Saterdag 29 Oktober: Beyerskloof het ’n “majestueuse begraafplaas waar die oudste graf uit 1820 dateer”.
Maandag 31 Oktober: Tussen Carnarvon en Vosburg is Karelsgraf waar ene Karel deur ’n olifant doodgetrap is. Die datum op die klip is 1750.
Dinsdag 1 November: Coetzer skryf: “Ons vertrek 06:00 vanaf die Suidpool. Dit is yskoud ek het ’n baadjie, ’n groot jas en ’n langbroek aan, handskoene, asook kombers oor my bene. Dit begin saggies reën en ons trek die seil oor die wa. Toe ons klaar is, hou dit op met reën.”
Later ontmoet hulle die eienaar van die plaas waar hulle in ’n Karoo-huisie sonder krag oornag. “Hy praat van ’n skuldpunt, nie ’n spilpunt nie. Oos van die N12 boer jy op die Here se genade en wes van die N12 op eie risiko.”
Saterdag 5 November: By Niekerkshoop beland die ekspedisie met perdewa en al midde die skool se atletiekbyeenkoms waar hulle ’n groot verwelkoming kry.
Ná afloop van die ekspedisie het boodskappe en goeie wense van so ver as Pietermaritzburg en Kaapstad steeds op die WhatsApp-groep ingekom:
“Ons het elke dag saam met julle gekuier langs die pad wat julle gery het.”
“Wel gedaan. Die ekspedisie het ons oë oopgemaak vir wat gebeur het en wat gedoen is jare terug. Die perde en osse het SA oopgemaak, getem, en begin beskawings maak.”
“Piet, you are a legend. In years to come people will still talk about you and your horses.”
- Vir meer inligting oor die Vergete Grootpad, stuur ’n e-pos na doreen@karoofoundation.co.za;
- besoek die webwerf Karoo Development Foundation;
- besoek die webwerf Ons Karoo en Kontrei; en
- Ons Karoo en Kontrei en Karoo Development Foundation op Facebook.


