’n Zimbabwiër wat glo onwettig in die land is en verdink word dat hy drie jongmense se dood in twee ongelukke kort op mekaar in Kimberley veroorsaak het, het op Vrydag 16 Augustus aan die landdroshof gesê hy wil die families om verskoning vra.
Collin Nhlanga (39) was agter die stuur van die wit Nissan Navara-bakkie wat op 30 Junie omstreeks 14:30 glo eers ’n voetganger, wat ’n belowende jong krieketspeler was, by die kruising van Barklyweg en Selekestraat in Homelite getref en weggejaag het. Nhlanga het direk daarna glo teen ’n hoë spoed agter in ’n minibustaxi vol PA-vrywilligers by ’n rooi verkeerslig in Homestead in Barklyweg vasgery.
Videomateriaal wys hoe die minibustaxi met 14 passasiers daarbinne ná die botsing omslaan en op sy kant rol. Twee van die passasiers het soos die voetganger ook aan hul beserings beswyk.
Nhlanga word deur etlike aanklagte in die gesig gestaar, onder meer strafbare manslag, dronkbestuur, nalatige bestuur, versuim om by die ongelukstoneel stil te hou en dat hy onwettig in die land is. Hy het sy borgtogaansoek laat vaar.
“Ek wil die familielede om verskoning vra oor wat ek gedoen het,” het Nhlanga aan die hof deur ’n tolk gesê kort voordat hy na die selle teruggeneem is.
Die hofsaal was Vrydag vol PA-ondersteuners, passasiers wat ook beseer is en intussen herstel het, asook familielede van die oorledenes. ’n Beroering was onder die hofgangers hoorbaar ná Nhlanga se woorde, waarna die hofordonnanse hulle beveel het om te bedaar.
Landdros Rosemary Terblanche het aan Nhlanga gesê hy kan sy boetedoening met die ondersoekbeampte reël nadat die ondersoek voltooi is.
Volgens Neo Batsikane, aanklaer, wag die staat nog op onder meer bloedtoetsuitslae en verklarings as deel van die ondersoek. Die saak is tot 17 September uitgestel.
Die voetganger was Omphile Jonas (16), ’n leerling aan die Hoërskool Vuyolwethu en ’n belowende krieketspeler wat vir Noord-Kaap Krieket gespeel het.
Mi-Kayla Booysen (19) en Cavino Matthews (24) was passasiers in die minibustaxi wat saam met hul mede-partylede op pad terug was van Kathu, waar hulle by ’n jeugfees was.
Booysen is op 2 Julie aan haar beserings oorlede en Matthews op 19 Julie.
Omphile se vriend, Kago Qebane, was saam met hom tydens die ongeluk, maar is ongedeerd. Hy was emosioneel in die hof waar hy langs Omphile se ma, Omphemetse Jonas, gesit het. Die twee seuns het lemoene verkoop toe die ongeluk gebeur het. Kago het aanskou hoe sy vriend sterf.
Omphile se ma het vertel hoe sy nie haar derde jongste seun se dood kan verwerk nie.
“Ek mis hom elke dag. Ek was so trots op hom en sy krieketloopbaan. Sy droom was om ná skool die wêreld vol te reis. Hy het soveel planne gehad.”
Noord-Kaap Krieket het Omphile kort ná sy dood op Facebook as ’n baie talentvolle linkerarm-draaibouler beskryf: “Hy was ’n produk van die Frank Roro Hub wat ons provinsiale span in sy ouderdomsgroep by die Cricket South Africa Hub Challenge Maart vanjaar in George verteenwoordig het. Sy bydrae tot krieket sal baie gemis word.”
Kenneth Booysen, Mi-Kayla se pa, is ’n ambulansman in diens van die staat wat noodbehandeling op sy eie dogter gedoen het.
“Ek was dadelik ná die ongeluk op die toneel nadat my ander dogter, ook ’n passasier, my gebel en van die ongeluk vertel het. Ek het gehelp om Mi-Kayla uit die wrak te sny en het haar van noodgevalle tot in die waakeenheid vergesel.”
Sy is twee dae ná die ongeluk aan kop- en borsbeserings oorlede.
“My ander dogter, wat langs haar in die minibustaxi en ook beseer was, se ribbes is gebreek.
“Mi-Kayla was ’n sterk kind wat in haar beginsels geglo het. Ons het dringend antwoorde van die polisie en die aanklaer nodig om te verseker die ondersoek is behoorlik gedoen sodat geregtigheid geskied. Daar moet byvoorbeeld verklarings wees oor elke passasier se beserings, en foto’s wat by die outopsie geneem moes wees.”
Volgens wyle Matthews se broer, Edwin Jantjies, was hy die jongste van sewe sibbe.
“Hy was ’n nederige en sagmoedige mens wat almal met los werkies gehelp het.
“Ons verlang baie na hom, en my ouma kan nie sy dood verwerk nie.”
Sherifa Ferris, provinsiale PA-leier, sê die verskoning kom te gou.
“Die familie is gefrustreerd met die polisie se ondersoek. Die familie sal die verskoning aanvaar, maar nie nou al nie. Sy verskoning was nogal ’n verrassing.
“Die dood van ons lede is ’n groot terugslag, hulle was sterk mense in die gemeenskap.
“Mi-Kayla was ’n leier en het almal aangemoedig om harder te werk om vir die jeugdiges ’n beter toekoms te help bewerkstellig.”


