Brian Culver by die stroom rioolwater wat skynbaar al baie lank in die veld vloei.

Foto: Charné Kemp

’n Inwoner van Kimberley is hoogs ontevrede oor die besoedelde veld agter die Mediclinic Gariep waar hy nie meer met ’n geruste hart kan oefen nie.

Brian Culver sê die veld was altyd ’n plesier om in fiets te ry en te stap. Hy beskuldig die Sol Plaatje-munisipaliteit van laksheid.

“Die eens pragtige veld het in ’n morsige stortingsterrein verander wat gesondheidsgevare vir mens en dier inhou.

“Die besoedeling raak net erger. Die ergste is die rivier rioolwater wat van die Hillcrest-woonbuurt in die veld stroom. Dit stroom oor die paadjies waar ek nie meer kan ry nie. Dit is ’n gesondheidsrisiko om deur dié water te ry. Dit beteken ek moet allerhande ompaaie op die teerpad ry om die rioolwater te vermy.

Die plantegroei is ruig aan weerskante van die strepe rioolwater in die veld langs die Hillcrest-woonbuurt.

“Hier is nog wildlewe soos muishondjies en voëls, maar wat hou die besoedeling vir hulle in?”

Nog iets wat hom warm onder die kraag het, is tientalle hope huishoudelike- en bourommel wat oral in die veld langs die grondpaadjies gestort word.

“Niemand keer hulle nie en die besoedeling neem weekliks toe. Dit is inwoners, bouers en enigeen wat te lui is om na die munisipale stortingsterrein te gaan om van tuinrommel en ander vullis ontslae te raak.”

Intussen kap mense ook kameeldoringbome in die veld af, wat teen die wet is omdat dit ’n beskermende boom is. Hy sê benewens takke van sekere bome, is sommige groot bome heeltemal afgesaag.

Een van die talle kameeldoringbome in die veld waarvan die takke afgekap is.

“Die Sol Plaatje-munisipaliteit doen niks om die oorsaak van die rioolstorting te ondersoek of te herstel nie. Hulle hoop seker niemand sien dit nie.

“Die munisipaliteit sal boonop die veld moet rehabiliteer, en die rommeltrooiers aankeer en beboet. Geen munisipale verordeninge word toegepas nie.

“Die laksheid is ’n skreiende skande, want daar stroom ook rioolwater in die veld by Carters Glen, waar die pompstasie ook nie werk nie. Die kontrakteurs wat daar gewerk het, het hul werk gestaak, en die munsipaliteit lig ons nie in wat daar aangaan nie,” sê Culver.

Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, het nie kommentaar gelewer ná versoeke gerig is nie.

Een van tientalle hope rommel wat in die veld gestort is.

You need to be Logged In to leave a comment.