Bloemfontein se klein vegtertjie wat vroeg vanjaar na Amerika gereis het, waar ‘n groot tumor uit haar nek gesny is, moet dringend nog operasies ondergaan omdat dié gewas teruggegroei het.
Janique Venter (7) se ouers, Jacques Venter en Nadine Mukheibir, het op Vrydag 3 Oktober die nuus ontvang dat hul dogter se gewas terug is en dat dit nou deur haar brein versprei.

Dr. Johan Grobbelaar, hoof van die departement oor-neus-en-keel aan die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, het Vrydag na Bloemfontein gereis om met hulle die voorgestelde operasie te bespreek.
Die plan is dat die operasie in November gedoen word, kort ná Janique se agtste verjaardag op 10 November.
Janique is op ses maande met neuroblastoom gediagnoseer − ‘n kwaadaardige gewas het aan die regterkant van haar nek gegroei.

Twee jaar gelede het dokters bevestig dat die gewas na ‘n nie-kwaadaardige ganglioneuroom verander het, maar dit het steeds druk op haar lugpyp veroorsaak.
Met die ondersteuning van Dewald en Yolandi Fourie se The Pace Foundation, wat gehelp het om geld in te samel, is Janique en haar ouers aan die begin van die jaar na Memphis, Tennessee, waar die gewas uit haar nek gesny is. Die eerste deel van die operasie in Amerika is gedoen toe spesialiste op 28 Januarie Janique se regterslagaar permanent afgebind het sodat dit nie aan die bloei sou gaan wanneer hulle die tumor verwyder nie.
Sy het van Amerika teruggekeer met ‘n kunsmatige trachea. Die trachea is ná ‘n onsuksesvolle poging, op 13 Maart, op 24 April verwyder nadat dr. Marileen Roos ‘n stuk kraakbeen van Janique se linker-oor gebruik het om die trachea te heg.
‘n Skandering om te sien hoe die gewas reageer, is op 10 Junie gedoen en op 29 Julie ‘n biopsie. Ná die toetse is vasgestel dat die gewas terug is en nou deur haar brein versprei.
Janique se ouers sê hulle is so dankbaar vir die ondersteuning van vriende en familie. Jacques sê toe hulle vroeër vanjaar in Memphis was, het Suid-Afrikaners wat daar woon ‘n WhatsApp-groep begin en vir Janique geskenke gegee.
■ The Pace Foundation ondersteun verskeie projekte. Besoek thepacefoundation.com om uit te vind oor die projekte, waaronder een vir Janique.
Die stigting bied op Vrydag 31 Oktober ‘n Bingo-aand aan. Die geselligheid begin om 18:00 in die Violet-saal op die Bloemfontein-skouterrein. Kaartjies kos R250, of R25 500 vir ‘n tafel van tien. Kaartjies is beskikbaar deur 078 779 5450 te skakel.






You must be logged in to post a comment.