“If animals could speak, the dog would be a blundering outspoken fellow; but the cat would have the rare grace of never saying a word too much.” – Mark Twain
Dis haar unieke asemteue wat met ’n gefluit deur die neusholtes uitgestoot word. Klein tjankies wanneer die droom met ’n geknor, gegrom, geblaf agter haar ooglede afspeel. Die wyse waarop haar asem jaag, die lippe vibreer, die ribbekas op en af spring. Selfs in die donkere nag weet ek wie van die drie dit is.
Drickie, wie se gekrap ek selfs van die ander s’n kan onderskei. Die een met die dik stem. ’n Stem waarmee sy graag bevele uitdeel. Die gekerm as ek die bal onder die bed moet uithaal of wanneer ’n onderdaan dit gegaps het. Haar opgewonde gejil wanneer oupa en ouma se kar voor die hek staan en sy hulle uitbundig wil gaan verwelkom. ’n Goedige geknor wanneer ek moet ophou om aan haar pote te karring. Kerm- en klaagliedere as ons soggens nie vinnig genoeg stapskoene aantrek nie. Die hulpkreet wanneer sy haar onderdane ontbied om te help soek na die geitjie agter die geutpyp.
Die gestaar na die kas waar die sokkerbal, gholfbal, hokkiebal en tennisbal weggesteek word. Hoe haar ore orent staan wanneer die opgestopte speelgoedhond haar met sy oorblywende oog van bo die kas koggel. Haar verwytende oë en bedroë houding by die leë kosbak. Die intense staar wanneer sy verveeld is en ek iets moet uitdink.
My hond is nie net ’n hond nie.



