Mari van Tonder
Mari van Tonder in Hongarye Credit: Verskaf

“Ek is verlief op my lewe hier,” vertel ’n derdejaarstudent in veeartsenykunde aan ’n universiteit in Boedapest in Hongarye.

Mari van Tonder, wat in Van Zylsrus in die Kalahari grootgeword het, wou ’n veearts word vandat sy kan onthou.

Die Universiteit van Veeartsenykunde in Boedapest se onderrig in dié loopbaanrigting strek reeds oor 230 jaar. Foto: Facebook/University of Veterinary Medicine

Omdat sy soos talle hoopvolle voornemende veeartsenykundestudente nie keuring daarvoor gekry het nie, het sy BSc-veekunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin studeer – met die hoop om later keuring vir veeartsenykunde te kry.

“Ek het sewe of agt keer by Onderstepoort aansoek gedoen, sonder sukses,” vertel sy.

Onderstepoort is deel van die UP se Fakulteit Veeartsenykunde en is die enigste instelling in Suid-Afrika waar veeartsenykunde aangebied word.

Mari van Tonder van Van Zylsrus is ’n student aan die Universiteit van Veeartsenykunde in Boedapest, Hongarye. Dié foto is tydens ‘n Internasionale Dag van die universiteit geneem waartydens studente van verskillende lande byeenkom en geregte eie aan hul land voorsit. “Ons maak gewoonlik melktert en malvapoeding,” vertel Van Tonder.” Foto: Verskaf

Maar Van Tonder, wie haar skoolloopbaan in 2013 met onderskeidelik tuisonderrig en aan die Hoërskool Duineveld in Upington voltooi het, kon nie haar gekose loopbaanrigting vergeet nie.

Behalwe haar kleintyddroom om dié beroep te volg, het sy boonop tydens ’n hoërskoolvakansie by dr. Gerhard van der Westhuizen, ’n veearts van Kuruman, skaduwerk gedoen waar sy in haar hart bevestiging ontvang het dat dit haar gekose pad is.

Sy het egter nie geweet van al die afdraaipaaie voordat sy dié gekose pad na die Universiteit van Veeartsenykunde in dié Hongaarse hoofstad sou vind nie.

‘Nooit opgegee op my droom nie’

Terugskouend sê Van Tonder hoewel dit op ’n stadium net nie meer moontlik gevoel het om veeartsenykunde te studeer nie, het sy nie haar droom opgegee nie.

“Ek was reeds 26 jaar oud toe ek veeartsenykunde begin studeer het; dit was ’n lang pad tot hier.”

Direk ná sy haar universiteitsopleiding voltooi het, het sy twee kortstondige werkservarings gehad. Hoewel sy daartydens lewensondervinding opgedoen het, het sy ook besef dit is nie hoe sy die pad vir haarself sien nie.

Sy is terug na haar ouerhuis in Van Zylsrus. Vir tien maande het sy drie dae per week vrywilligerwerk by die Kalahari Meerkat-projek gedoen waar sy veral by die navorsing van molle betrokke was.

“Hier het ek weer my selfvertroue teruggekry,” vertel sy.

Die ander dae van die week het sy koekies vir verkope gebak, ’n vaardigheid wat sy by haar baasbakster ma, Hanelie, aangeleer het.

My ma sê altyd as dinge moeilik of skeef gaan, dan bak jy koekies.”

Mari van Tonder

Van Tonder het dié koekiesbak en vrywilligerwerk by die Meerkat-projek as ’n oorbrugging gesien totdat iets meer pemanent sou opduik.

Kas vol wintersklere in China

Om Engelse klasse in die buiteland aan te bied was haar volgende opsie, en in 2019 het sy na Ningbo in China vertrek waar sy vir ongeveer tien maande gewerk het.

“Teen daardie tyd het ek my veeartsdroom al so ’n bietjie laat gaan, en het ek besluit as ek dan nie ’n veearts gaan word nie gaan ek elke twee jaar in ’n ander land skoolgee en darem die wêreld sien.”

In Januarie 2020 het sy vir ’n vakansie teruggekeer Suid-Afrika toe; net toe die Covid-19-pandemie veroorsaak het dat landsgrense begin sluit het. Weens dié rede kon sy nie goedkeuring kry om terug te gaan China toe nie; dit terwyl sy ’n hele kas vol wintersklere in China agtergelaat het!

Koekiesbak was toe weer die antwoord om haar studieskuld verder te delg. Rondom hierdie tyd het sy van die studiemoontlikheid in Hongarye gehoor, en het met navrae en haar aansoek begin.

Sy het dit intussen verwelkom toe die skoolhoof van die Hoërskool New Orleans in die Paarl haar aan die begin van 2021 gekontak het met die aanbod om wetenskap vir die gr.10 tot gr.12-leerlinge aan te bied. n Vriendin van Van Tonder wat ekstra wiskundeklasse by dié skool aangebied het, het die hoof van haar vertel.

“Die hoof was bewus van my aansoek om veeartsenykunde te studeer, en het geweet ek sou waarskynlik gou weggaan. Ek moes elke aand baie hard leer om die volgende dag klas te gee omdat ek lank terug fisika en chemie gedoen het.

“Die Here het ook hier die regte mense oor my pad gestuur, en mede-onderwysers en die vak-adviseur van fisiese wetenskappe van die Wes-Kaap het my geweldig ondersteun.”

Hierdie vyf maande van klasgee in wetenskap was vir Van Tonder goeie voorbereiding vir verdere studies. Uiteindelik het sy in September 2021 na Boedapest vertrek.

“Ek is vir die Stipendium Hungaricum-beurs gekeur. Hongarye het die ooreenkoms met 80 stuurvennote en ons is verskeie studente van verskillende lande wat met behulp van dié en soortgelyke beurse studeer.

“Beurse is nie net vir veeartsenykunde beskikbaar nie, maar vir ’n verskeidenheid ander studierigtings. Dié ooreenkoms tussen Hongarye en Suid-Afrika bestaan al vanaf 2017,” vertel sy.

Die doel van die beurse is om studente in verskeie rigtings op te lei, en dat hulle hul kennis na Suid-Afrika terugbring, en vir ’n tydperk hier werk.

Van die ongeveer 30 Suid-Afrikaners wat saam met Mari van Tonder veeartsenykunde in Hongarye studeer. Van links is, voor: Justin Dent, Robyn Altmann, McKayla du Bruyn, Coeryn Botha, Tsireledzo Munyai, Steph Beardsmore en Paige Mileham; middel: Ashley van Niekerk, Yolani Robbetze, Anieca de Witt, Herman Smith, Van Tonder, Luc Callebaut, Nicole Ahier, Pippa Goudvis en Hannelore Constable; agter: Octaviah Rajchl, Goitsimang Thema, Lize-Mari Hayton, Kobus Hendrikz, Matthew Robinson, Josh Everett, Nathan Raath, Richard Bechard, Calantha van Rijckevorsel en Anjori Maré. Talle van dié studente het ook voorheen studeer, elkeen met sy eie storie. Foto: Verskaf

Talle Suid-Afrikaners studeer, werk in Boedapest

Van Tonder bly in ’n drieslaapkamerwoonstel saam met twee Suid-Afrikaners wat ook veeartsenykunde studeer.

Matilde-Rose du Toit van Pretoria het vir vyf jaar gewerk voordat sy in Hongarye begin studeer het. Sy en Van Tonder is reeds vir twee jaar woonstelmaats.

Coeryn Botha van Vanderbiljpark, wat vanaf September saam met hulle bly, het ook soos Van Tonder eers veekunde aan die UP studeer.

“Ons bly omtrent so 20 minute se stap vanaf die universiteit. Boedapest se stelsel vir openbare vervoer is verbruikersvriendelik en ons gebruik die metrotrein, busse, trolliebusse en trems. Ek ry meestal fiets kampus toe,” vertel sy.

’n Trolliebus is ’n elektriese bus wat oorhoofs aan kragkabels gekoppel is, en ’n mens moet glo nie die fout maak om na dit as ’n bus te verwys nie.

Mari van Tonder van Van Zylsrus in die Kalahari vertel sy is “verlief” op haar lewe in Boedapest. Foto: Verskaf

Die universiteit gebruik drie taalgroepe: Hongaars, Engels en Duits. In derde jaar word die Engelse en Duitse klasse saamgevoeg en vind onderrig in Engels plaas.

“Deel van die beurs se ooreenkoms is dat ’n student vir ’n jaar lank Hongaars as ’n vak moet neem. Ek het dit op die ou end so geniet dat ek vir ’n jaar-en-’n-half langer daarmee aangegaan het.

“Dit is ’n baie moeilike taal om te leer en ek kan dit nie ordentlik praat nie, maar kan darem die basiese verstaan en myself in die winkels help.”

Meer as 30 Suid-Afrikaners studeer veeartsenykunde aan dié universiteit. Ander Suid-Afrikaners studeer onder meer medies, en nog ander gee skool.

“Ons het ’n ongelooflike Suid-Afrikaanse gemeenskap hier. Boedapest het so baie om te bied. Daar is altyd iets nuuts om te doen. Die openbare vervoer maak dit maklik om oral in die stad uit te kom en niks is gewoonlik verder as 20 minute weg nie.”

Behalwe studeer en reis, is draf ’n groot deel van Van Tonder se lewe in Boedapest.

“Voorheen het ek soms ’n parkrun gedoen, maar in Boedapest is ’n groot groep Suid-Afrikaners wat draf, en so het ek reeds twee halfmarathons voltooi, met ’n derde een in Boedapest en ’n marathon in Praag later vanjaar.

“Toe ek hier begin oefen het, kon ek nie eens 5km hardloop nie, maar my vriende het my baie motiveer. Die roetes deur die stad is ongelooflik mooi.

In Boedapest het Mari van Tonder se droom om veeartsenykunde te studeer, ’n werklikheid geword. Sy het boonop daar in ’n marathon-atleet ontaard. Ná die voltooiing van die Telekom Spring-halfmarathon in April 2023 is van links Christiaan van der Merwe (wat in Boedapest werk; sy vrou studeer saam met Van Tonder), Van Tonder, Murray Hobson (onderwyser), Nicole Ahier (veeartsenystudent), Kimberley Jones (onderwyser) en Herman Smith (veeartsenystudent). Foto: Verskaf

Wat Van Tonder die meeste na verlang weg uit Suid-Afrika, is om te braai, te sokkie en Suid-Afrikaanse kos in die algemeen.

“Ek bring blatjang, my ma se koekies en Peppermint Crisp-sjokolade terug wanneer ek Suid-Afrika toe gaan.

“Ons braai af en toe in die park as ons te veel huis toe verlang.

“Die coolste ding ooit is om in die Parlement se biblioteek te gaan leer.

“Ek probeer om soveel as moontlik te reis terwyl ek in Europa is, en probeer elke langnaweek of kort vakansie êrens heen gaan. Ek tutor ekstra anatomie-klasse, en pas kinders op vir ’n ekstra geldjie om te kan reis.”

Van Tonder het in Januarie 2022, tydens haar eerste vakansie in Hongarye vir vyf dae alleen die Camino-staproete vanaf Porto in Portugal tot in Caminha op die grens na Spanje gestap.

Tydens Januarie 2023 het haar ma en hul buurvrou van Van Zylsrus, Susan Niewoudt, dit verder saam met haar vanaf Caminha tot in Santiago de Compostela gestap.

Mari van Tonder saam met haar ma, Hanelie, en Susan Niewoudt. Die foto is by die Santiago de Compostela-katedraal geneem nadat hulle hul roete op die Camino-staproete voltooi het. Foto: Verskaf

Van Tonder se pa, ds. Kobus van Tonder, wat een maal per maand ’n geestelike rubriek vir NoordkaapBulletin skryf, het in Januarie vir haar gaan kuier.

“My kuier was ‘n wonderlike belewenis saam met Mari, en dit was goed om Boedapest te beleef – waar sy bly, saam met haar op kampus te wees en haar vriende te ontmoet.

“Boedapest is ‘n wonderlike ou stad met die mooiste argitektuur langs die Danube en sy mooi brûe oor die rivier. Ek het ook die voorreg gehad om sneeu te beleef, dit was snerpend koud,” vertel hy.

Pa en dogter was ook vir sewe dae in Italië en het Rome, Florence en Venesië besoek.

Mari van Tonder saam met haar pa, ds. Kobus van Tonder, tydens sy onlangse besoek aan Hongarye. Hulle het ook enkele stede in Italië verken. Foto: Verskaf

‘Regte tyd, regte plek, regte mense’

’n Akademiese jaar aan dié universiteit begin in September en eindig in Junie, waarna ’n somervakansie van net oor die twee maande volg.

Die kursus wat Van Tonder volg, bestaan uit 11 semesters waarvan die 11de semester uit praktiese werk van 18 weke bestaan.

“Dit kan jy by enige kliniek van jou keuse doen. Verskeie studente verkies om dit in Suid-Afrika te doen.

“Daar is ’n kleindierekliniek op kampus en ’n ent uit Boedapest ’n perdekliniek. Die eerste twee-en-’n-half jaar is baie teoreties maar ons het ook baie praktiese disseksies in anatomie en patologie, asook prakties vir bakteriologie en virologie.”

Veeartsenykundestudente leer by die perdekliniek hoe om X-strale te neem. Foto: Verskaf

In ’n student se derdejaar word met praktiese onderrig by die perdekliniek begin, en in die vierde jaar begin die skofte.

Tussen die vierde en vyfde studiejaar moet studente polikliniese prakties vir een maand by enige kliniek doen.

In die toekoms sal Van Tonder graag met wild en wildbewaring wil werk.

“Ek hou daarvan dat soveel veeartse in Suid-Afrika ’n bietjie van alles doen. Hier in my derde jaar doen ek kort-kort iets anders wat my belangstelling in ‘n ander rigting prikkel. Ek sien daarna uit om hierdie semester meer met perde te werk.

“Ek sal baie graag in die platteland wil bly. In my hart is ek maar ’n kleindorpie-mens.

“Die Here se planne lyk nie altyd dieselfde as ons s’n nie. Op die ou end weet ek vir seker ek is op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense, en sou dit nie anders wou hê nie.

n Mens moenie dat slegte situasies en dinge wat oor jou pad kom toelaat dat jy op jou drome opgee nie.

“Ek is ook dankbaar vir my ouers en vriende wat altyd in my geglo het en my aangemoedig het,” sê Van Tonder.

Mari van Tonder tydens ’n naweekuitstappie na Lake Bled in Slowenië. Foto: Verskaf

Onderrig strek oor 230 jaar

Die Universiteit van Veeartsenykunde in Boedapest se onderrig in dié loopbaanrigting strek reeds oor 230 jaar, en vir meer as 30 jaar ontvang dié akademiese instelling internasionale studente.

Volgens die universiteit se webwerf is 67% van sy studente internasionale studente uit 50 lande; met 33% Hongaarse studente.

Dié staatsbeheerde universiteit huisves die oudste veeartsenykunde-onderriginstelling in Hongarye, en is in 1787 gestig.

Suid-Afrikaanse studente wat belangstel om aan dié universiteit te studeer, kan direk by die universiteit aansoek as ’n selfbetalende student doen, of kan inligting inwin oor hoe om vir verskeie beurse by die departement van hoër onderwys en opleiding (Department of Higher Education and Training) aansoek te doen.

Beurse deur dié departement is ook vir ander lande en ander studierigtings beskikbaar.

Nuttige skakels:

vethungary.com;

univet.hu/en/;

stipendiumhungaricum.hu/ en klik op “Apply for Stipendium; Hungaricum”;

stipendiumhungaricum.hu/study-finder/;

apply.stipendiumhungaricum.hu/; en

internationalscholarships.dhet.gov.za/

’n Deel van die kampus van die Universiteit van Veeartsenykunde in Boedapest. Foto: Facebook/University of Veterinary Medicine

You need to be Logged In to leave a comment.