Veeartse, gemeenskap vat hande

As deel van ’n veldtog is 119 diere op 25 en 26 Februarie deur nege veeartse van oor die land heen in Philipstown gesteriliseer.


As deel van ’n uitreikveldtog deur ’n plaaslike kleinvee-voortplantingspraktyk is 119 katte en honde op 25 en 26 Februarie deur nege veeartse van oor die land heen in Philipstown gesteriliseer.

Miki Fourie, Geneco Repro se voortplantingsprogram­bestuurder, sê hul personeel en die veeartse het vrywillig gewerk.

Die praktyk was genoodsaak om al die medisyne en toerusting aan te koop omdat hulle nie gewoonlik met honde en katte werk nie. Plaaslike inwoners en medisyne­maatskappye het ook geld en benodigdhede bygedra.

Die plaaswerkers van Knoffel­fontein, waar Geneco Repro gesetel is, het die katte en honde geskeer en vir die operasies voorberei. Hulle het ná die prosedures die nasorg gedoen en seker gemaak elke dier is warm en word wakker.

“Ons het die veeartse met wie ons maatskappy gereeld saamwerk, gevra of hulle vrywillig sou deelneem, en die reaksie was oorweldigend. Hulle is drs. Frans Jooste van Philipstown, Hendrik du Toit van Bloemfontein, Aubrey Kumm van Knysna, Geoff Brown van Pretoria, Dominique Bell van Colesberg, Megan Brown van Pretoria, Charmaine Rous van Colesberg, Manie du Plessis van Modimolle en Monica Muller van Cradock,” sê Fourie.

“Amptenare van die kantoor van die staatsveearts in De Aar het ook kom help.”

Willemien Jooste, ’n veeartsverpleegster, en die personeel van Geneco Repro het die logistieke en administratiewe reëlings getref.

Advertensies is in plaaslike koerante geplaas, plakkate is opgesit en die sosiale media is ingespan om die boodskap te versprei.

Inwoners van Philipstown, Vanderkloof en Petrusville kon hul troeteldiere op die betrokke dae na die plaaslike sportsentrum neem. Elke troeteldiereienaar het ook ’n gratis koeldrank en T-hemp gekry.

Volgens Fourie is daar is ’n groot behoefte aan sterilisering, veral wanneer ’n mens al die honger rondloperdiere in ag neem.

“Ons is baie tevrede met die aantal diere wat gesteriliseer is. Elke dier is ook vir hondsdolheid ingespuit en ontwurm.”

“Daar is ’n gevoel dat ons iets goeds vermag het. Ons is baie dankbaar jeens almal wat dadelik ingestem het om hul tyd en ervaring te skenk.”
Miki Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.