Een oomblik samel mense en organisasies geld in en mobiliseer hulle ander om te help om verligting vir die uitmergelende droogte te bring.
Dan skielik is die volgende pandemie hier.
Die staat van inperking is een van die gebeure wat die mense in die Kalahari gedink het net in geskiedenisboeke of in die buiteland bestaan.
Maar toe ons weer hoor, het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat net diegene wat noodsaaklike dienste verrig, mag werk.
Die res van die land moet tuisbly.
In baie arm huishoudings was broodgebrek ’n gegewe en maande nadat die inperking verlig is, is daar steeds talle wat swaarkry.
Nou is die tyd om saam te staan en saam te bid soos nog nooit tevore nie.
Sonder om te vra, het mense van oral spontaan hulp aangebied.
Hulle het ingegryp en vragte kos en ander noodsaaklike produkte aangery en uitgedeel.
Ander het kontant gegee waarmee kospakkies aangevul kon word.
Mense het gegee wat hulle kon.
Die hele wêreld word deur die virus geraak, en as ons aanhou om kragte saam te snoer sal ons daarin slaag om die virus te bekamp.
Mense wat uit hul harte gee vir vreemdes is weer eens ’n bewys dat ons maar net instrumente in God se hande is en moet wees.– Hanelie van Tonder



