Een van die gewapende polisielede wat die eienaars van die Felidae-sentrum en die vrywilligers verbied het om foto’s of videos te neem.

Foto: Verskaf

Die 11 buitelandse besoekers wat as vrywilligers by ’n sentrum buite Kimberley betrokke is, waar onder meer leeus en luiperds aangehou word, was onder die indruk dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens daar is om inwoners te beskerm.

Wat hulle op Vrydagoggend 26 Julie waargeneem het toe ongeveer 20 swaargewapende polisielede in onder meer ’n Nyala – ’n gepantserde personeeldraer – en ander voertuie by die Felidae-sentrum, “Cats place of safety”, saam met Eskom-werkers opgedaag het om die sentrum se krag te sny, het hulle getraumatiseerd gelaat.

Wapens is glo op hulle en die eienaars gerig, en is hulle deur aggressiewe polisielede verskree.

“Van wanneer af sit jy krag met gewere af? En waar sou hulle (polisielede en Eskom-werkers) onveilig wees dat hulle gewapen moes wees? Niemand van hulle se lewe was hier in gevaar nie.”
Tercia Burger

“Hulle (die polisie) het hul mag misbruik; vuurwapens op ons en die vrywilligers gerig; en ons intimideer,” sê Tercia Burger, wat saam met haar man, Nicol, en dogter Chriszanne dié nie-winsgewende maatskappy sedert September 2010 bedryf.

Die Felidae-sentrum is slegs 25 km vanaf Kimberley geleë, maar is deel van die Vrystaat se Xhariep-distriksmunisipaliteit.

Die dispuut met Eskom oor die balans van die elektrisiteitsrekening strek glo sover terug as Augustus 2022, en ondanks prokureursingryping en ’n vergadering in Bloemfontein is die dispuut nie opgelos of afgehandel nie.

“Ons mag dalk nog geld skuld, maar die regte bedrag moet bepaal word. Ons het nog nooit geweier om te betaal nie,” sê Tercia.

’n Boodskap is ontvang dat Eskom op Vrydag die krag sou afskakel, en ondanks die instel van ’n interdik teen dié aksie het Eskom-werkers, vergesel deur die polisielede en in verskeie voertuie, by die hoofingang langs die N8 opgedaag.

‘Dagvaar vir Eskom tot in die grond’
Voor dit het die Burgers dit duidelik aan ’n senior amptenaar van Eskom gestel dat die leeus agter elektriese heinings gehou word. Hierop het die amptenaar glo gesê dat “sou die leeus uitkom en mense byt, julle maar vir Eskom tot in die grond kan dagvaar.”

Hy het ook glo geweier om die brief met die dispuut in ontvangs te neem, wat van die prokureur ontvang is.

Met die aankoms van die konvooi is hulle toegang geweier, ook omdat die polisie nie ’n lasbrief gehad het om dié eiendom te betree nie.

Die voertuie het egter deur ’n Eskom-toegangshek die plaas betree; ’n hek wat lanklaas gebruik is en deur doringbosse toegegroei is.

Die Eskom-bakkie by die Eskom-toegangshek wat deur doringbosse toegegroei is. Agter die bakkie is die Nyala-voertuig.

Die Nyala ry oor die doringbosse by die Eskom-toegangshek.

Op videomateriaal wat deur die Burgers geneem is, word gesien dat die Eskom-bakkie eerste oor die doringbosse ry nadat die hek oopgesluit is, gevolg deur die Nyala. Die Burgers en die persone in die twee voertuie was toe in dieselfde gebied op die plaas.

“Toe hoor ons ’n skoot binne die Nyala,” sê Nicol.

Na bewering het ’n polisielid binne die Nyala se wapen afgevuur toe dié voertuig tot stilstand geruk het nadat dit oor die bosse gery het. In dieselfde video word gesien hoe die Nyala se deur oopgemaak word, en hoe ’n polisielid deur ’n ander een na ’n volgende polisievoertuig geabba word.

Felidae

Terwyl ’n polisielid die Nyala se deur oophou, word ’n kollega wat uit die voertuig kom, deur ’n ander een van die toneel geabba.

Op hierdie tydstip word daar op die Burgers geskree dat hulle nie videos mag neem nie, en is Chriszanne se selfoon uit haar hand gegryp. Die foon is veel later, glo in ’n beskadigde toestand, terugbesorg.

Daarna het die Eskom-bakkie en die Nyala na die kragpaal gejaag om die breker oop te maak en die sekerings uit te haal om die kragtoevoer te ontkoppel.

“Dit is verskriklik om te dink die polisiemag kan ons nie beskerm nie, maar hulle daag in hordes op om krag af te skakel,” sê Tercia, wie van mening is dat die situasie soveel anders hanteer kon word.

Totdat die situasie beredder is, moet die Burgers ’n ekstra kragopwekker huur, wat saam met hul eie kragopwekker teen hoë koste aan die gang gehou word.

Polisielede by die Eskom-werker wat die krag afsluit. Die gebied, sowel as die kragpaal, is nie in die leeukampe nie.

Polisie-ondersoek vind plaas

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê op navraag dat die skietvoorval op die dag by die direktoraat aangemeld is waar die afvuur van ’n wapen in terme van art. 28 (1) (c) van die Opod-wet ondersoek word.

Hy sê die voorlopige verslag dui daarop dat die polisielede Eskom-werkers vergesel het tydens die afsny van die krag.

Dit word beweer dat die eienaars van die sentrum met hul aankoms die hekke van die leeukampe oopgemaak het, en dat die polisielede weggehardloop het. In die proses het een geval en sy vuurwapen het afgevuur en ’n kollega in die been gewond.

“Die ondersoek na die voorval het begin, en eers wanneer dit afgehandel is, sal ons ’n verslag kan gee oor wat op die dag gebeur het,” sê Shuping.

‘Standaardprosedure’ met sommige afsluitings

Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom-woordvoerder, sê dit is standaardprosedure dat die kragverskaffer se werkers deur polisie vergesel word wanneer hulle afsluitings in gebiede doen waar ’n gesindheid van vyandigheid beleef word.

“Hierdie punt is onder veeleisende omstandighede afgesluit. Die provinisiale departement van omgewingsake en landbou is ook vooraf geraadpleeg oor die moontlike gevare rakende die wilde diere sou Eskom die krag afskakel. Daar is bepaal dat die kliënt oor ’n rugsteun-kragbron beskik, sou die Eskom-krag afgesluit word.”

  • Teen druktyd is bevestig dat die Burgers se regsverteenwoordiger die Hooggeregshof nader.

Die Felidae-sentrum, ongeveer 25 km buite Kimberley. Dié hooftoegangshek is langs die N8 tussen Kimberley en Bloemfontein.

Die hoofingang na die Felidae-sentrum.

You need to be Logged In to leave a comment.