Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Valke het Donderdagoggend (10/03) in ’n klopjag op die kantoor van die Nasionale Loterykommissie (NLK) in Kimberley toegeslaan nadat hulle ‘n dringende lasbrief bekom het om op dokumente, skootrekenaars en rekenaarhardeskywe beslag te lê.
Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, sê die ondersoek het betrekking op die beweerde misbruik van befondsing wat nie-winsgewende organisasies gebruik om gemeenskappe op te hef.
“Ons is betroubaar deur fluitjieblasers ingelig dat NLKs-amptenare na bewering die dienste van middelmanne gebruik wat nie-winsgewende organisasies nader om by die NLK aansoek vir geld te doen. Sodra die aansoek goedgekeur en die geld oorbetaal is, sou die middelmanne en amptenare na bewering 30% van die geld eis.
“Ons het vanoggend met ‘n dringende lasbrief toegeslaan, want sou ons die normale, meer tydsame, wetlike prosedure volg om dokumente aan te vra, kon belangrike bewyse verdwyn.”
Die ondersoekers sal ook die huise van die amptenare besoek op soek na bewysmateriaal.