Vrydag 15 Desember is tot vakansiedag verklaar.
Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging op Maandagaand 30 Oktober gedoen terwyl hy die nasie toegespreek het ná die Springbokke se sege in die wêreldbekerrugbytoernooi.
Ramaphosa het voor die eindstryd ’n vakansiedag belowe indien die Springbokke sou wen, en hoewel talle Suid-Afrikaners die vakansiedag vroeër verwag het, is dit uitgestel om onder meer nie die matriekeindeksamen te ontwrig nie.
Die bykomende vakansiedag op 15 Desember is ’n dag voor Versoeningsdag, wat vanjaar op ’n Saterdag val.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, meen Ramaphosa het in sy toespraak Maandagaand die Springbokke en sport misbruik vir die ANC se verkiesingspropoganda.
Die EFF het Ramaphosa se aankondiging oor die vakansiedag as “opportunities” en “misleidend” afgemaak omdat dit reeds binne ’n vakansietydperk val.
Volgens die EFF is baie sakeondernemings en bedrywe, asook skole, teen dan reeds gesluit.

