Vakansie kán min kos

Dit is moontlik om minder geld uit te gee wanneer jy met vakansie is. Die geheim hiervan is om prakties te bly en te werk met wat jy reeds beskikbaar het.


Dit is moontlik om minder geld uit te gee wanneer jy met vakansie is. Die geheim hiervan is om prakties te bly en te werk met wat jy reeds beskikbaar het.

“Jy kan pret binne jou begroting hê,” meen Carla Oberholzer, DebtSafe se skuldadviseur.

Sy gee tien wenke hiervoor:

  • Sit jou begroting of algehele begrotingsbedrag vir die vakansie uiteen en hou daarby. Hou jou vakansiegeld in ’n afsonderlike rekening sodat jou vakansie-uitgawe nie inbreuk maak op die res van die maand se begroting nie. Hou egter ook tydens die vakansie kontant byderhand vir noodgevalle.
  • Neem toiletware saam. Indien ruimte min is, koop kleiner verpakkings of gooi die inhoud na ’n kleiner houer oor. Moet dit nie by jou vakansie­bestemming gaan koop waar dit waarskynlik duurder is nie.
  • Pak slim en lig.
  • Vind vooraf uit watter gratis of bekostigbare aktiwiteite by jou vakansiebestemming beskikbaar is.
  • Speel die ouderdomskaart reg. As jy 60 jaar en ouer is, gebruik jou kaart vir pensioentrekkers en kry afslag waar moontlik. As jou kind jonger as twee jaar is, en in sommige gevalle jonger as 12 jaar, kan afslag ter sprake wees. Dit kan ook vir studente die geval wees.
  • Maak seker watter reisuitgawe die goedkoopste kan wees. Soms kan vlieg goedkoper as ry wees.
  • Data is duur in Suid-Afrika. Let op na plekke wat gratis internettoegang bied.
  • Wees op die uitkyk vir plaaslike markte of winkels vir vars seisoenale groente en vrugte.
  • Gebruik jou voordele in besparing- en beloningsprogramme op vakansie, soos wanneer jy jou brandstoftenk volmaak.
  • Betreffende kos- en versnaperinge: Selfsorg-opsies is altyd ’n goeie idee, maar bring benodigdhede van die huis af saam. Pak peuselhappies in en neem dit saam tydens uitstappies.

    Let op na spesiale aanbiedinge by restaurante. Indien die plek waar jy oornag, wel ontbyt insluit, maak van die geleentheid gebruik.


Nog wenke

  • Moenie beplan om bestemmings te besoek wat jy nie kan bekostig nie. Neem die verblyf-, vervoer-, kos- en aktiwiteitsuitgawes in ag.
  • Bepaal of jy werklik ’n groot, duur oornagplek moet bespreek waarin jy nie veel tyd gaan deurbring nie. Vergelyk pryse van onder meer hotelle, koshuise, kampeerplekke en bed-en-ontbyt-opsies.
  • Reis buite gewilde vakansie­tydperke.
  • Wanneer dit by aanlyn besprekings kom: Maak jou soektog-geskiedenis (via jou rekenaar of selfoon) skoon. Gebruik die incognito-soektogmetode veral wanneer jy aanlyn vakansie­besprekings doen of aanlyn produkte kies of koop.
  • Probeer om elke maand ’n bedrag te spaar en laat jou gesinslede hierby betrokke wees.

You need to be Logged In to leave a comment.