Druk om op skool te presteer raak al hoe erger.
Skool is ’n voorprogram, ’n voorskou op die lewe, en vir ouers en kind is dit belangrik om hul opvatting van “druip” te verander.
Prestasie en goeie punte op skool bepaal nie wie jy is nie en bepaal ook nie jou karakter nie.
Dit is oor en oor bewys dat hardwerkende mense sukses bereik, nie slim mense nie.
Op die jaarlikse prysuitdelingaande kry die slimmes erkenning vir hul harde werk. Maar die een prys ná die ander is nie noodwendig ’n voorspelling van die leerling se latere sukses in die lewe nie.
Die grootste fout van die prestasiekultuur in ons skole is dat dit die opvatting ondersteun dat as jy druip, is jy dom, onnosel, lui, nikswerd en ’n misoes.
Ons moet die klem verskuif na vaardighede en waardes wat ons kinders elke dag leer, eerder as punte – wat ’n soms verkeerde beeld van die kind se werklike potensiaal uitdra.
Dit het geen meriete om hande te klap by die prysuitdelinggeleentheid en dan sit die einste slimkopkind hopeloos, doelloos en visieloos ná matriek nie.
Ek was jare in die onderwys en jaarliks het ons skool ’n prysuitdelinggeleentheid gehou. Leerlinge staan trots op die verhoog met hande vol erkenningsertifikate. Ná matriek sit die einste slim kind werkloos en in trane en dieselfde skool wil nie eens help om hul CV te fotostateer nie.
Tans bevind ek my in ’n dorp waar mynbestuurders groter waarde aan ’n veeldoelige sentrum heg as om in jongmense se potensiaal te belê deur ’n tegniese kollege te bou om hulle vir die groeiende mynwese voor te berei.
Binnekort gaan nog ’n groep skoolverlaters in trane by die huis sit met die beste simbole op ’n matrieksertifikaat en vir die volgende 20 jaar hoor: “Jammer, julle het nie die vaardighede om by die myn te werk nie. Ons sal mense invoer.”
Hoekom? Want die meerderheid van ons plaaslike myne word vanuit Gauteng of van oorsee regeer, manipuleer en bestuur deur mense in sagte stoele met sterk politieke bande in die hoogste gestoeltes.