Uppies presteer in S-Kaap

Die Hoërskool Upington se eerste rugbyspan kan breëbors rondstap nadat die manne puik gevaar het op die 38ste Oakdale-rugbyweek van 1 tot 5 April by dié landbouskool net buite Riversdal.


Die Hoërskool Upington se eerste rugbyspan kan breëbors rondstap nadat die manne puik gevaar het op die 38ste Oakdale-rugbyweek van 1 tot 5 April by dié landbouskool net buite Riversdal.

Dertig skole van oor die land heen – waaronder die tuisskool, die Hoërskool Kempton Park, Windhoek-Gimnasium, Welkom-Gimnasium en die Hoërskool Die Brandwag (van Uitenhage) – het aan die toernooi deelgeneem.

Uppies het in die openingswedstryd van die toernooi op die A-veld teen die Hoërskool Strand gespeel. Die Upingtonners het die eerste punte aangeteken met die Duvenhage-broers wat van mekaar af gespeel het, waarna Nakkie, die kaptein en agtsteman, oor die doellyn is.

Nog ’n drie is deur Janno Lategan gedruk terwyl Iwan Lombard sy deel met die skopskoen gedoen en met twee doelskoppe en ’n strafskop geslaag het. Uppies het die wedstryd met 17-5 gewen.

Op die tweede dag van die toer het Uppies teen die Hoërskool Durbanville op die A-veld meegeding.

Weens ’n besering moes die span sonder sy kaptein klaarkom.

Desondanks het die span hom goed van sy taak gekwyt.

Twee briljante drieë is deur Harry Nell en Venter Scholtz gedruk terwyl Iwan weer sy skopvoet laat praat het en twee strafskoppe en ’n doelskop deur die pale gestuur het.

Uppies het bygedra tot ’n skouspelagtige wedstryd, teen ’n sterk span, wat uiteindelik 84 minute lank was. Die eindtelling was 18-21 in die guns van die teenstanders.

Die derde dag van die toer het nog harde teenstand vir Uppies op die A-veld opgelewer waar hulle die Hoërskool Hermanus gepak het.

Albei spanne se spelers was redelik lyfseer, maar albei spanne het steeds voluit gespeel. Dit was ’n wipplank-stryd en die spanne het om die beurt drieë gedruk.

Uppies het vier drieë aangeteken waarvan Devan Walters twee drieë en Jeandré Simon en Bobby Duvenhage elk een bygedra het.

Die laaste drie van Uppies se toer was weer danksy die werk van die Duvenhage-broers gedruk.

Iwan het met drie doelskoppe en een strafdoel geslaag om die eindtelling op 29-31 in die guns van Hermanus te staan te bring.

Die Landbouskool Oakdale kies jaarliks ’n vyftiental waardeur hy erkenning gee aan spelers wat in hul onderskeie posisies uitgeblink het.

Jasper Wiese van Uppies is in 2013 as beste agtsteman aangewys, terwyl sy broer, Cobus, in 2014 en 2015 as beste nommervyf-slot aangewys is.

Jasper is tans by die Griffons betrokke en Cobus by die Stormers.

Nakkie is vanjaar as die toernooi se beste agtsteman aangewys.

Die kos, verblyf en geriewe van die Landbouskool Oakdale was van uitstaande gehalte en besoekers het die skool lof toegeswaai en genoem dat dít die rugbyweek net soveel meer genotvol gemaak het.

En dan was daar die onbeperkte melkvoorraad. Die seuns het met etenstyd glase vol melk gedrink danksy Oakdale wat ’n klomp jerseykoeie aanhou wat gemelk word.

You need to be Logged In to leave a comment.