Jannie Visser van die Kakamas-rugbyklub skop pale toe in die wedstryd teen Upington Dorp wat Saterdag (09/04) in Kakamas gespeel is.

Foto: Odette Kruger/Upington Dorp

Plattelandse rugbyklubs kry oplaas die geleentheid om weer mee te ding ná ’n lang wedstryddroogte weens die Covid-19-regulasies wat geheers het.

Odette Kruger berig dat Upington Dorp Saterdag (09/04) teen die span van die Kakamas-rugbyklub op die veld van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas uitgedraf het.

Dit was dié spanne se eerste ontmoeting in die plaaslike ZF Mgcawu-liga sedert die aanvang van die landwye grendeltydperk, sê Kruger.

Te midde van dreigende weer wat die toeskouers na skuiling laat skarrel het, het die stryd voortge­gaan. Teen rustyd was die besoekers met 19 – 14 voor.

’n Groot deel van die tweede helfte is met donderweer en die skare se gejuig op die agtergrond gespeel. Jannie Visser van Kakamas het die laaste sekondes van die stryd benut deur ’n strafskop tussendeur die pale te stuur, sodat die tuisspan met 31 – 29 kon seëvier.

Upington Dorp het Michael Steyn as hul speler van die wedstryd aangewys.

  • Die span van die Kuruman-rugbyklub het Saterdag teen die span van Sishen gespeel en met 27 – 14 geseëvier.

Tobi de Jager, afrigter van die Kuruman-span, sê dit was ’n baie uitdagende wedstryd en teen rustyd was sy span met 5 –14 agter.

“Maar fiksheid en toewyding het ons deurgetrek. Ons is baie dank­baar vir hierdie oorwinning,” sê hy.

Die skeidsregter het ná die wedstryd die Kuruman-span vir sy dissipline geprys.

Die volgende wedstryd is gereël vir 23 April op die Kuruman-span se tuisveld.

You need to be Logged In to leave a comment.